Monday, May 7, 2007

Nuwe sjokolade!


En net toe jy dink jy het al alles gesien of geproe, val Cadbury’s uit met hulle nuwe reeks van vier sjokolade plakke (“slabs”), “LOCAL IS LEKKA”. Die een wat ek hier verslind het is “Traditional Melk Tert”. Dit is melksjokolade met ‘n kanelerige vulsel. Jy kan jou net indink. Daar is ook “Mint Fridge Tart” en “Neopolitana Ice Cream” en een ander geur (ek kon op Universiteit ook net altyd 9 van die 10 punte onthou, so –), gaan kyk gerus self in die winkel. Hierdie was by Kwikspar gekoop.

En skielik is jy platsak. Jou kar is gebreek/gesteel/ver geparkeer en jy moet ‘n taxi vang. Ons het in 1994 rond lekker in die Kaap in die minibus taxis rondgekarjakker. R 2 ‘n rit. Ek sien al hoe meer mense spring deesdae op taxi’s. Die bussies. Mense wat voorheen nie sou nie.

HOE ROEP JY NIE ‘n TAXI NIE?

Steek jou middelvinger in die lug. Dis vloek.

Dieselfde geld vir ‘n vurk maar met jou twee vingers. Dis ook vloek.

Steek jou goue horlosie in die lug. Jy kan vinniger minus ‘n arm wees as plus ‘n saamrygeleentheid.

Steek jou vuis in die lug. Jou mede-landsgenote sal net, self vuis in die lug, “Amaaaaaandla” skree en verbyjaag.

Kyk stip in die lug op. Almal gaan ook begin opkyk en dieselfde “plane” probeer “spot”.

Lig jou regterarm na die kant op en steek jou vinger uit. Mense gaan dink jy het vasgehaak in die “Staying Alive” era.

OK, ek kan regtig nie vandag aan tien verkeerde maniere dink nie. Daar is regte maniere. Tekens, met jou vingers. Wat nie vloek is nie. Maar ek ken hulle nie. Het dit nog nie onlangs nodig gehad nie. Genadiglik. Sal maar op ‘n bordjie verf “Jozi, please”, indien dit ooit nodig sal wees……

Aangename week,
Suigeling

Kopiereg S. van Niekerk 2007

0 comments: