Niemand weet nie maar Witbank se naam het stilletjies verander. Ook maar goed. Het nog nooit van WITBANK gehou nie en kan die nuwe naam baie beter uitspreek: E-MAL-A-HLENI. Beteken seker "Plek van die Groot Fout". Of so iets...
HIERDIE WEEK: Allerande snippertjies goed om aan te knaag. CD-resensies en moet-lees bullets.
ALLERANDHEDE
'n Vriendin voel sy word ouer en het nog nie die regte man ontmoet nie. Sy sê toe sy moet dalk maar haar eiers laat vries. Sy moet nog besluit hoeveel dosyn...
PASOP! Ek wou hierdie week week 'n blaasverwarmer koop, toe koop ek amper 'n UHF/VHF/FM ROTATING INDOOR ANTENNA WITH AMPLIFIER! Hulle lyk baie dieselfde!
As jy selfmoordneigings het, gaan kyk na die DERDE EPISODE van PIRATES OF THE CARIBBEAN. Hoe het hierdie reeks tot by DRIE EPISODES gevorder? Ek het laas jaar die tweede een gekyk en alhoewel die spesiale effekte goed is, is die storie erg flou. En nou is daar 'n derde floue as jy niks beters het om te doen nie.
Die Afrikaanse prent OUMA SE SLIMKIND is ook baie flou, hoor (kom ek nou met die sak patats vorendag). Soos ek geskryf het, is die musiek en fotografie voortreflik maar die storie is vol gate en die die akteurs oortuig nie. Dis klomp 24-jariges wat hul as 16-jariges voordoen (Hykie Berg is erg EVIL hierin, ek onthou hom ook so van "Om-i-Wêreld" ;-)) en een outjie is kamtig gestremd. Aikona! Wat 'n pyn. Maar doen iets vir jou taal, en gaan kyk dit. Of koop die Beeld, dis ook Afrikaans. En meer realisties..
Nuwe CD's
Anneli van Rooyen - 25 Jaar se Musiek (EMI)
Ag, ek was nog altyd 'n "fan". Maar het enigiemand 60 mooi liedjies al ooit opgeneem (behalwe Roxette?) :-) Sy het 'n paar flou wysies aan die begin self uitgedink maar toe besef - die Europese goed werk maar beter. Ek was in 'n skool waar ons "Ek glo in die lewe, gooi jou hart na bo..." op die atletiekpawiljoene uitgebasuin het. En dan is daar "Ek Lewe", die groot treffer en ander lekker luistergoed soos "Neem my op vlerke" en "Hierdie dag is myne". Anneli het haar o.a. doodgeleer aan haar woord vir die liedjie "Halleluja". Ek hou nogal van die Duitse "tunes". Ek doen ook nogal 'n goeie Anneli van Rooyen. (Ek is oop vir besprekings). Behalwe as haar stem jou laat gril, koop tog die boks van 3 CD's. Lekker in die kar. Of as jy jou hart wil gooi na bo..
Dana Winner - Als je lacht (EMI)
Dana singt al 10 jaar liedjes voor onze Zuid-Afrikaners. Sy't eers met Steve Hofmeyr 'n (sing)verhouding in 1997 gehad en intussen het 300 000 van haar CD's al van ons rakke afgevlieg (ek het so driekwart daarvan gekoop) ;-) Hierdie nuwe uitreiking is zuiwer Vlaams (geen swak vertaalde Afrikaanse nommers met 'n swaar aksent nie) en bevat 'n klomp vertalings van liedjies soos "Delta Dawn" en "God gave love to you" van Bonnie Tyler. En onbekende goed. Sy is beeldskoon, sing beeldskoon en as jy hou van CD's met wit omslagte, sal jy baie van hierdie hou. Hy's 'n witte.
Elton John - Rocket Man
Dis nou weer 'n grootste treffers samestelling dié en ek het nog nooit iets van hom gehad behalwe "Lion King" nie, so toe koop ek dit. Ag, as ek nog een keer "Sacrifice" of "Nikita" moet hoor, eet ek sommer rottegif. Dis doodgespeel op die radio en ook by troues (Sacrifice). Sy musiek is baie divers en verskillende style - so 'n CD sal nooit alles mooi goed ophê vir almal nie. Daar is 'n paar juweeltjies op maar KFC Rounders is ook lekker. Koop dit eerder.
daar word beweer daar was moontlik 'n paar Engelse sokkerspelers in die Rose se nederlaag-rugbyspan met gister se toets opgeneem was. Kan dit wees?
Groete,
Suigeling
Kopiereg S van Niekerk 2007
0 comments:
Post a Comment