Sunday, June 10, 2007

DUITSLAND en SUID-AFRIKA: Verskillend, maar so dieselfde...

Niks so koel soos 'n Duitse wintersonnetjie...


Onse THABO en die Duitse Kanselier ANGELA MERKEL het hierdie week koffie en wors gedrink. Hulle kom toe agter, ons lande is baie dieselfde. En ook nie!

In DUITSLAND kan jy so vinnig soos jy wil op die snelweg ry. In Suid-Afrika ook.

In DUITSLAND is die vrou agter die kasregister by die supermark onverstaanbaar. In Suid-Afrika ook.

In DUITSLAND is hulle baie lief vir bradwurst. In Suid-Afrika ook. Vir boerewurst.

In DUITSLAND hardloop hulle in die SOMER uit buitekant toe vir bietjie sonlig. In Suid-Afrika ook. In die winter ook.

In DUITSLAND is hulle lief vir baie bier met min alkohol. In Suid-Afrika ook. Hier is hulle net lief vir baie bier met baie alkohol.

In DUITSLAND praat die kindertjies Duits van omtrent eenjarige ouderdom. In Suid-Afrika nie.

In DUITSLAND is daar kool op elke bord. In Suid-Afrika is daar kool in elke “shack”. Vir hitte.


In DUITSLAND is dit gevaarlik om voor ‘n trein in te hardloop. In Suid-Afrika is dit gevaarlik om melk te gaan koop.

In DUITSLAND is al die vroue mooi en blond. In Suid-Afrika is al die vroue Suid-Afrikaners.

In DUITSLAND praat die president Duits en elke burger verstaan haar. In Suid-Afrika praat die president Engels en niemand verstaan ‘n woord nie...


LAASTE WOORDE

Die vermetelheid! Ek bestel nou die dag pizza by Scooter's. Toe lewer hulle dit met 'n kar af!

Gevaar op die pad! Pasop vir groot borde wat langs die snelweg aangebring is. Dit mag jou aandag aftrek en 'n ongeluk veroorsaak weens die grootte daarvan. Daar staan op geskryf: "High Accident Zone". Met 'n groot rooi kol op...

Woolworths se nuwe borde! Geen honde toegelaat, behalwe gidshonde. (Hoe gaan daardie mense dit weet?)

Wie is Lindsay Lohan nou eintlik? As sy in hondemis trap ons dit hoofnuus in "Beeld". Hoe het dit gebeur dat sy so belangrik vir ons geword het? Wie is sy in elk geval? Ek lees nou die dag haar pa is saam met haar na 'n basketbalwedstryd. Jippee.

Michael W Smith kom in Suid-Afrika sing. As jy, soos ek, al van skool af sy musiek luister, moenie onverhoeds betrap word nie! 20 Oktober by die Coca-Cola Dome. Kaartjies by Computicket.

Groete,
Suigeling

Kopiereg 2007 S van Niekerk

1 comments:

Adam Dueck said...

Ag, dis 'n lekker blog hierdie. Ek is net 'n Kanadees wat 'n bietjie Afrikaans leer. Dis lekker om jou grape te lees en my Afrikaans te oefen. Jammer vir die voutjies, ek probeer!