Monday, June 11, 2007

Marlborough Mansions?

In woonstelle woon vreemde mense

Ek het gebly in so ‘n woonstelblok. Ou gebou. Groot vertrekke. Min geraas. Baie vreemde karakters.


Wie skuil in Sonneblom Villa’s?*

*skuilnaam


Die opsigtertannie kan net behoorlik uit haar een oog sien. Sy noem haar drie seuns die drie varkies en sien hulle min. Soms speel sy Bles Bridges kliphard dat dit deur die gange dreun, en as jy verby haar deur stap dans sy met haarself...



Bo my bly ‘n groot vrou wat elke oggend presies om halfses bad. Dan kap sy iets, op iets anders. Is dit haar haarborsel waarmee sy haar hare “tease”? Is dit die leë dieëtpilbotteltjie? Haar raserige Uno trek klokslag 07:15 weg...



In nommer ses bly ‘n ou wat altyd sonder ‘n hemp rondloop. Hy is die enigste ou wat ‘n alarm het. Wat steek hy weg? Wat kan iemand uit ‘n bachelorwoonstel steel? Iemand moet hom dalk inlig: die SCOPE is nou wettig...



Die vrou in nommer sewe het 'n klomp kinders en ry rond met ‘n klein blou karretjie minus 'n agtervenster wat iemand by die Winning Post uitgeslaan het toe sy gekareoke het. Sy kuier meer by nommer ses as by nommer sewe...




My buurvrou is ‘n Brit wat al langer in Suid-Afrika is as wat my pa oud is en steeds verstaan sy nie ‘n woord Afrikaans nie. Sy kry ‘n HAT vir Kersfees. En DE LA REY wat in die nag deur die muur blêr...




In nommer veertien bly ‘n ou tannie wat soos ‘n pruimedant lyk en heeltyd net met ‘n kind rondloop wat haar dogter met die rooi kar elke dag op haar kom “dump”. Sy lyk nie baie gelukkig nie maar ek twyfel of sy die bondeltjie sal wegspoel of by Checkers sal los.




Iewers in die hoek bly die Nigeriers by wie hulle die dag ingebreek het, iewers bo bly die swarte wat soms so raas dat die opsigtertannie hom vier keer moet gaan stilmaak, waarna hulle vir haar Kentucky aanbied, onder in die hoek bly ‘n oom met ‘n houtbeen of iets en sy vrou wat by die bank moet werk om die pot aan die kook te hou (hy brei ook truie), die paartjie bo hulle het ‘n pasgebore baba en elders kruip mense weg wat mens nooit sien nie….




Snaakse goed, vreemde bure. Dit gee die lewe darem ‘n “geurtjie”.



MOENIE MIS NIE:
Die asemrowendste video by www.youtube.com ! Tik in by "search" - BATTLE AT KRUGER, en kyk na die mees skouspelagtige natuurgebeurtenis op ons eie voorstoep. 4 miljoen mense het dit reeds op die internet gekyk. Dis 'n verhaal van die buffeltjie wat gevang is en die stryd om hom te kry - leeus, krokodille en sy buffelfamilie spring almal in, letterlik...




Groete


Suigeling


Kopiereg 2007 S van Niekerk

0 comments: