Sunday, June 24, 2007

SOLIEDE Kommunikasie....



Bring die BAKSTEEN terug!

Ken jy die gevoel? Jou selfoon kan drie mense gelyk afneem insluitend die buurvrou in die bad, MAAR HY WEIER OM TE BEL OF SMS!

Dis ons moderne dilemma. Selfone het te "slim" geword. Hulle is so dun soos papier, kan 'n hele fliek vir jou wys, kan musiek opneem en terugspeel. Maar jy't hom eintlik net gekoop om te kan BEL en SMS! Hoe slimmer hulle raak, hoe meer pieperig raak hulle en konk in as jy byna net te hard in hulle rigting kyk.
Waar is die ou dae, die dae van die baksteen? 1994: Die Nokia 1510. 'n Selfoon wat 'n skadu oor vandag se kleintjies sou gooi. 'n Skepping waaragter kindertjies kon wegkruip as hulle wegkruipertjie speel. Sulke fone was baie nuttig. Jy kon:
  • een agter jou kar se wiel sit om te keer dat hy agteruit rol.

  • jou huis se venster daarmee uitgooi as jy jou sleutels binne vergeet het.

  • jou kar se venster daarmee uitgooi as jy jou sleutels binne vergeet het.

  • dit op 'n spul papiere sit om te keer dat dit wegwaai.

  • dit gebruik as 'n ekstra sitplek by 'n braai as daar te min stoele was.

  • dit nooit verloor nie want dit was bloot altyd in sig.

  • dit voor die deur sit om te keer dat dit toewaai.

  • een langs jou op die gras neersit en dan in die skadu daarvan tuinmaak.

  • daarmee BEL en SMS, en dis presies waar my probleem inkom!

Die nuwe generasie fone sê eendag vir jou: "Phone start-up failed. Contact retailer". En dan is als verby. Al die fotos wat hy kon neem. Al die liedjies wat hy kon speel. Al die ander goed wat jy nie so nodig gehad het soos om te kon bel en sms nie.

Ek mis die baksteen. Bring hom terug! Die baksteen het nie teruggepraat nie.

NOG NIE SO DAARAAN GEDINK NIE...

(verkeersboetes)

Maak seker jou hare is altyd gekam en, dames, dat julle gegrimeer is. Mens weet nooit wanneer een van hierdie spoedkameras jou afneem nie.

(selfmoordneigings)

Deesdae hoef jy nie meer van 'n brug af te spring of pille te drink as jy jou lewe wil beeindig nie. Koop net vir jou 'n groen FIDILITY GUARD GELDTROKKIE en ry daarmee in die straat af. Jy hoef nie moeilikheid te soek nie, moeilikheid sal jou kry.

(vroue in die nuus)

Wat het Najwa Petersen en Daisy de Melker in gemeen? Albei is vroue en albei hou van "shop"! So sê Dowwe Dolla...

(flieks)

Sandra Bullock, my ou gunsteling aktrise, is in 'n nuwe fliek te sien, "Premonition". Al is die kritici gekant teen die Christelike hoek wat die storie inneem, het ek dit nogal waardeer. Moenie jou ore uitleen of 'n fliek goed is of nie. Gaan kyk dit self. Behalwe "Natural Born Killers". Dis gemors. Glo my maar. Behalwe as jy in 'n slaghuis werk. Dan sal jy dalk tuis voel met al die bloed om jou. 7 uit 10.


IS JY MOEG GESTAAK? Maak soos die onderwysers wat in die goeie ou dae gestaak het, en staak in die vakansie!


Groete,

Suigeling

Kopiereg 2007 S. van Niekerk


























0 comments: