Sunday, June 17, 2007

VADERSDAG!


Brrrrr.... 'n Doopgeleentheid op 'n koue Vadersdagoggend. (Christelike kamp, Mpumalanga)

Kanselleer Vadersdag!!

Pa's het klaar reeds als...
of andersins, kies enigiets met 'n neutrale kleur, soos bruin!

MOONTLIKE GESKENKE VIR VADERSDAG:

Een van daai reuse gemonteerde (plastiek)visse met die oop bek wat lyk of dit tydens sy laaste oomblikke vreeslik geskrik het, vir die kroegmuur (omdat pa nooit self 'n ou grote kon uittrek nie...)

'n grondboontjiebak

'n bruin das

'n biltongbak

'n bruin belt

'n stel skroewedraaiers

'n bruin serp

'n tang

'n bruin trui

(nog) 'n tuinslang

'n bruin stortseep


Ek hoop as ek eendag pa is sal rooi en geel en blou en groen ook sterk kleure wees as Vadersdag aanbreek. En geen geskenke wat rym met "biltong" of "skroewedraaier" nie!

Ek hoop steeds julle Vadersdae was besonders. Om nog jou pa te hê is 'n "blessing" wat mens eers besef jy gehad het as jy hom nie meer het nie. So, geniet julle pa's. Al moet hy en jy tevrede wees met bruin geskenke....

In ANDER nuus...

(BOIKOT)
94.7 hou volgende naweek 'n Afrikaanse rockkonsert. Bid jou dit aan! As jou naam Judas is, gaan gerus. Want eintlik voel 94.7 vere vir Afrikaans. Behalwe as hulle 'n geldjie uit ons kan maak!

(BOEK)
Sonja Herholdt se biografie is uit. Party mense sê sy kla te veel, maar as jou man se minnares (jou man) se (ander) kind ses weke vanaf jou eersteling gebore word, mag jy maar kla! Die boek gee ook 'n kykie na die Afrikaanse musiekbedryf vanaf die 70's. Sonja het met Anton Goosen se liedjies, wat hy spesiaal vir haar geskryf het, ("Trein na Matjiesfontein", "Harlekyn", Waterblommetjies"ens.) deure vir ander sangers oopgemaak. (Geweet dat ds. JAN DE WET ook baie van Sonja se fraai nommers geskryf het, soos "Ek verlang na jou"?)

(FLIEK)
Hou jy van flieks in ander tale, met onderskrifte? Cinema Noveau in Rosebank wys sulkes, en dis nie almal "weird" nie. Net in 'n ander taal, soms. Soos die ware verhaal van Sophie Scholl (in "Sophie Scholl: The Last Days", wat tans wys). Sophie en haar boetie het anti-Hitler pamflette onder studente in die Tweede Wêreldoorlog versprei. Toe word hulle gevang en betaal die gruwelikste, grootste prys. Vandag is sy 'n heldin in Duitsland en die fliek is puik. Selfs as jy nie so baie van daardie oorlog weet nie. En hou van geskiedenis. Soos ek. 8 uit 10.

(FLIEK)
Amazing Grace is 'n periodefliek oor 'n bekende Brit wat die slawe help vrystel het in Brittanje honderde jare terug. O ja, en die priester wat die liedjie "Amazing Grace" (how sweet the sound) gekomponeer het, is ook iewers in die prentjie. Ek weet ek het soms vreemde smaak, maar hierdie fliek was werklik begapingswaardig en stadig en nie eers die liedjie kom sy siel red nie (that saved a wretch like me)... 5 uit 10

(CD)
Lekker nuwe CD! Ek koop nie maklik samestellings nie want Robbie(s) Wessels of Robbie(s) Klay (of Robbies Williams) is altyd iewers en ek haat hulle musiek, maar hier is iets anders... 'n Samestelling van oorspronklike kunstenaars getiteld: "SONDAG- SONGS UIT DIE SEPIES". (SONDAG is mos die nuwe Afrikaanse Sondagkoerant wat ek nie koop nie.) Hier is die snitte, veral die laaste vier is "classics"!

1. Agter Elke Man 2. Droomland 3. Liefde In Die Suburbs 4. Katryn 5. Kinders Van Die Wind 6. Binnelanders 7. Vyfster 8. Ballade Van 'n Enkeling 9. Liggroen Doringbome 10. Twee Sagte Hande 11. Sonkring 12. 7De Laan 13. Ek En Jy En 'n Bottel Tas 14. Arende 15. Breyten Se Brief 16. Gautengeleng 17. Tussen Treine 18. Transkaroo 19. Voshaarnooi 20. Trompie 21. Kraaines 22. Heidi 23. Pinnochio

(grappie)

Jannie blaai deur sy ma se Bybel en kom af op 'n geparste blaar. Hy hardloop na sy ma toe: "Mamma, mamma - ek het Adam se onderbroek in ma se Bybel gekry!"

MOENIE MIS NIE: Die asemrowendste video by www.youtube.com ! Tik in by "search" - BATTLE AT KRUGER, en kyk na die mees skouspelagtige natuurgebeurtenis op ons eie voorstoep. 4 miljoen mense het dit reeds op die internet gekyk. Dis 'n verhaal van die buffeltjie wat gevang is en die stryd om hom te kry - leeus, krokodille en sy buffelfamilie spring almal in, letterlik...

Groetnis,
Suigeling

Kopiereg 2007 S van Niekerk

2 comments:

Merissa said...

hallo daar, dis lekker om iets in Afrikaans te lees. Biltongbakkie? haha! Hoekom het ek nie DAARAAN gedink nie. Alhoewel, Ek sou eers Biltong moes in die hande kry.. dis maar skaars hier in Noord Amerika. Ek sal weer terug kom na jou blog toe om te lees.

Chris said...

Hey Stefan, ek het nou vir die eerste keer jou blog kom lees. Sal van nou af meer gereeld n draai kom maak. Lekker dag daar en sien jou een van die dae in SA!