Wyn sonder die skop? "Gluhwein"-sap! Spesery-sap, nou op die rak.
Die Geboorte van die Voorhangsel
Die Voorhangsel (ook genoem die "Maag", "Pens" of "Boep", tussen vriende), die gordyn waaragter alles wegkruip, gebeur nie sommer vanself nie. Hy word gekweek, gevoed, natgelei.
Moeg vir jou boep? Jy IS wat jy VREET!
Daar is tien basiese reëls wat ons Afrikaners breek en dit veroorsaak ons voorhangsels. Hou by die reëls en sien uit na die dag wanneer jy weer jou voete kan sien, sonder om in die spieël te kyk!
Reël 1: DRINK BAIE WATER
(brandewyn met water tel nie. Ook nie "YS" in whisky nie)
Reël 2: EET 'n VERSKEIDENHEID KOSSE
(Tjops en steak en sosasties en wors is nie wat hulle bedoel nie)
Reël 3: EET MEER WIT VLEIS
(die "wit" stukkies in die biltong is nie witvleis nie...)
(die "wit" stukkies in die biltong is nie witvleis nie...)
Reël 4: EET MEER GROENTE
(hoender is nie groente nie, al dink party boere so)
Reël 5: EET MEER VRUGTE
(die "raisins" in "rum 'n raisin" roomys is nie van toepassing nie)
(die "raisins" in "rum 'n raisin" roomys is nie van toepassing nie)
ReëL 6: WERK ROOIBOSTEE IN JOU DIEET IN
('n Big Mac burger saam met jou tee kanselleer die tee uit)
ReëL 7: WERK GROENTESAP IN JOU DIEET IN
(Bier is nie groetesap nie. Want "hops" is nie groente nie. Jy het so gedink, né?)
Reël 8: WERK GROENIGHEID IN JOU DIEET IN
("Mint Crisp" sjokolade tel nie)
Reël 9: EET EERDER MARGARIEN AS BOTTER
(Margarien saam met stroop en roomys op jou wafels tel nie)
(Margarien saam met stroop en roomys op jou wafels tel nie)
Reël 10: AS NIKS WERK NIE, DRINK MAAGMEDISYNE
Nie Coke nie. Dit was dalk in 1888 gesien as medisyne, maar is deesdae 'n verbanne middel in enige Weigh-Less lid se spens. (Het Weigh-Less lede spense???)
(grappie)
Wat noem mens 'n boer met 'n deurtrekker?
John Deur-trekker
(boek)
"Die Binnekring" - Terugblikke op die laaste dae van blanke regering, deur Jan Heunis (seun van destydse minister Chris Heunis). Ek het gewonder hoe dit was in daardie dae. Ons kan almal bietjie uitvind hoe dit in die dae van apartheid was waarvoor ons nou nog beskuldig word maar wat ons nie kan onthou nie want ons was nie toe gebore nie. 'n Dun boekie uit die binnekring van die ou NP-manne. Ek trek nou by Pik. Strawwe drinker. Gewild onder die dames...
(fliek)
'n Kunsfliek het altyd een of meer van die volgende tonele in:
1. Iemand wat in 'n koringland viool speel.
2. Iemand wat wasgoed ophang.
3. Iemand wat iemand anders in 'n vreemde taal leer fiets ry.
4. Iemand wat skielik al hul klere afpluk om in 'n meer te swem.
5. Iemand wat erg gestremd is en toe eintlik 'n bobaas-sanger is.
6. Iemand in die gehoor wat snak na hul asem want die einde van die fliek kom so onverwags. Eintlik is daar nie 'n einde nie.
"As it is in heaven" het al hierdie goed in. Dis Sweeds met onderskrifte. Cinema Noveau. 8 uit 10.
(fobie)
Pasop as jy op teerpaaie in Suid-Afrika ry. Hulle vang jou ORAL vir spoed. Weens my fobie hieroor, en vrees vir die "speedies", het ek my al doodgeskrik vir die wit pote van 'n kamera langs die pad wat toe net 'n vrou se bene was. Sy't 'n gebleikte denim aangehad. Of die wit bakkie met gekleurde ligte op die dak wat my agtervolg. Dis toe net gekleurde lere op 'n verfmaatskappy se trokkie. RY ASB STADIG! JY'S IN GEVAAR, AL RY JY 1KM/H TE VINNIG!
Groete,
Suigeling
Kopiereg 2007 S van Niekerk
0 comments:
Post a Comment