Naby Nieuwoudtville dra miere blomme rond. Hoekom? Eet hul dit dalk in April of as dit reën? Of verfraai hul net die nes?
Daar is niks op die kassie nie...
Deesdae is daar niks op TV nie. As jy die TV aansit en “Days of our Wives” is op, weet jy jy het te veel tyd op hande. Gaan terug werk toe. Of as jy nie anders kan nie, is dit nog steeds Sammy en Lucas wat besluit of hulle gaan trou, soos tien jaar terug. Die verskil is net, hulle het nou al drie kinders. Of so iets.
Probeer “Dikgang”, wat niks met gewig of gange uit te waai het nie en al wat jy heeltyd probeer raakhoor is “Dumêla”, “Ageeeee”, “Metzi”, “Maswi” of “Boroto” en “Botoro”, want dit is al wat jy van Sotho op skool kan onthou. Maar na ure en dae se kyk, hoor jy daardie woorde nie en sien heeltyd net Thabo op die skerm wat glimlag en bladskud met Bush of Brown of Anan of ‘n non.
Jy kan rondspring en eindig op Patricia Lewis se aftreeannuiteit genaamd “Supersterre”, waar 10 kinders met baie ‘highlights’ (in hulle hare) en ander uit minderbevoorregte gemeenskappe kyk wie dink Niekie van den Berg kan die mooiste sing. Hoe kies mens iemand as mens niemand wil kies nie? Ek dink Shakespeare het dit gesê, eendag.
“Agter Elke Man” op Saterdaemiddae is my gunsteling – dis die eerste reeks, dis 1985 en almal was nog mooi jonk. Dis die laaste keer wat Nora van Egoli die rol van ‘n ryk vrou gespeel het, as Marietjie Barnhoorn. Sy dra sedertdien net ou truie en geleerde sykouse, vir dekades elke aand op TV al.
Dis hoekom ek besluit het - kry die skottel! Saam met die dekodeerder. Vodacom het die wonderlikste 16-kanaal opsie, insluitend Kyknet vir net R 139 ‘n maand en jy kan enige tyd ophou. So gesê, so gedaan. Die programme is deesdae min of meer dieselfde en mens raak gou uitgekyk, maar dis so wonderlik om skottel-TV te hê, mens kyk sommer vir ure. Daar is nie meer sneeu op die skerm nie, net iets wat lyk soos ‘n blokkie wat baie rondbeweeg. Maar dis so mooi! My Engels het ook baie verbeter sedert ek die skottel gekry het. Ek weet al presies wat dit beteken en kan dit selfs opsê sonder om op die skerm te kyk: “E16 You are not enabled to view this channel or your account has been suspended. Please contact the Call Centre for assistance.” Ek sien baie uit na die dag wanneer hulle hom aansit.
(boek)
“McDonald’s - Behind the Arches” deur John F. Love, vertel die storie agter die McDonald’s Corporation. Van kindsbeen tot kunsbeen. Ray Kroc het ou Oos-Europese bloed gehad en hy het in die middel 50’s die konsep by die McDonald-broers, wat nie narre was nie, gekoop. Vandag is hy dood. Hy is darem ryk dood. Sy beste raad aan sy werknemers was: “Moenie enkel pakkies sigarette koop nie. Koop kartonne vol. Dis goedkoper.” Korrek. Hy is nie dood van hamburgers nie.
(fliek)
Is dit te laat om “Bourne Ultimatum” te gaan sien? Jammer as jy te laat is want dit gaan nie dieselfde op DVD wees nie. Die beste fliek wat ek die afgelope tyd gesien het. James Bond kan maar met sy Aston Martin die see in ry, Jason Bourne is almal se nuwe gunsteling spioenerige ou.
(melk)
Drink jy melk? Of gooi jy melk in iets? Of oor iets? As ek nie bier het nie, gooi ek altyd melk oor my Wheet-Bix. (Grappie) Nou kry mens melk met ‘n skoot vanieljegeursel by. Dis baie lekker. Die melkboere gaan dood van die honger maar ons drink melk met vanilla in. Soos Marie Antoinette vir die armes gesê het: Hoekom eet julle brood? Eet koek! Of so iets.
(kinderprogramme)
Pinocchio en Heidi wys nou weer op Kyknet, en jy kan die hele 52-episode reeks van Pinocchio nou op DVD koop vir slegs R 450. Maar ek weet nie of kindertjies meer vir daardie tipe animasie gaan val nie. Om ‘n voorbeeld te noem. Heidi eet ‘n broodjie. Maar dit kan net sowel ‘n groot klip gewees het. Dis so ‘n ronde sandkleurige ding wat sy in haar mondjie druk met die lippies wat nie eers woorde kan vorm nie, dit gaan net oop en toe as sy praat. Laat kinders liefs in die tuin met hul eie, regte 3-D honde speel.
(politiek)
Gehoor onse President het onlangs ‘n hele kursus by die Black Cat grondboontjiebotterfabriek voltooi. Hulle wys jou hoe grondbone behandel word, fyngemaak word en gaargemaak word en dan met drie eenvoudige bestanddele, suiker, groente-olies en sout gemeng word om ‘n smeerbare produk tot gevolg te hê. Die grootste les wat hy egter daar geleer het in die daglange opleidingsessie was om byna enigiets onder die son wat toegesmeer kan word, toe te kan smeer.
Groete
Suigeling
Kopiereg S van Niekerk 2007
0 comments:
Post a Comment