Dit was skilderymooi, net buite Springbok, toe die blomme verlede maand die velde langs die paaie, en die berge van Namakwalnd versier het. EIE FOTO
Daar was destyds so ‘n advertensie op TV met die huppelende boodskap en koeie wat "moe". Al te vrolik. Maar melk is nou so duur, ons bly maar by OKTOBERMAAND – die mooiste, mooiste maand. Wanneer dit hopelik vir die eerste keer in ‘n jaar in Johannesburg meer as twee keer sal reën. Of OKTOBERMAAND – die langste, langste maand. As jy ‘n salaristrekker is. Oktober het 23 werksdae vs. September se 19. Ja, jy het reg gelees. Ons gaan amper ‘n week langer werk vir dieselfde geld….
Maar vergeet van Oktober, “Uit die Mond van die Suigeling” is terug na ‘n tyd van stilte waarin laatnag huilende stemme oor die telefoon gesmeek het vir nog, maar waarin ek helaas niks opbouends of lewensveranderends kon uitdink nie. NIKS HET VERANDER NIE! Maar hier volg dan ‘n paar minder opbouenede en lewensveranderende lewens(on)waarhede.
KERK “PICK-UP LINES” WAT NIE WERK NIE!
Die mees beeldskone girl het langs jou in die kerk kom sit. Na die diens wil jy iets vir haar sê, maar weet nie wat nie. Bly eerder stil as om te sê:
Jy lyk so mooi as jy slaap.
(Jy sien sy gooi net twee rand in die bordjie). Wil jy geld leen?
Is dit ‘n spesiale kleur naelpolitoer wat jy dra, of werk jy met karre?
Jy’s darem glad nie so vet soos die vrou wat die kollekte opneem nie.
Ek sien jy eet brood?
Wie’s jou gunsteling dissipel?
Ek het jou nog nooit hier gesien nie. Is jy ook ‘n Christen?
Ek sien jy het nie ‘n Bybel nie. Kan jy lees?
Maak jy ook nooit jou oë toe as jy bid nie?
DIE KUIER BY OOM EUGENE
Om by oom Eugène (Ney) Terre'Blanche te gaan kuier, verg mannemoed. As jy hoor hy “wil jou sien” skrik jy. Moes ek nie maar vanoggend khaki aangetrek het nie? Wat gee ek vir hom as geskenk? Net nie koek nie! Sal hy beskuit eet? Netnou gee ek vir hom iets wat hom aan tronkkos herinner!
Die oggend in Julie is ek en my baas op pad na sy huis toe. Ek probeer al lank om hom te ontmoet en toe die ontmoeting uiteindelik met die hulp van die ontvangsdames van die enigste dokterspraktyk op Ventersdorp gereël is, weet ek skielik nie meer of ek wil gaan nie. Wat gaan hy van my dink? Ek was jare laas op ‘n perd! Sal hy dit kan sien? Sal hy aan my pap armpies kan sien dat ek lanklaas ‘n geweer vasgehou het? Moes ek nie maar ‘n baard vir vandag gegroei het nie? Daar was nie tyd nie. Geen tyd vir wonder of beplan nie. Dit was ‘n skielike kuier en ons is toe maar soontoe... met beskuit.
Ons klop eers by die verkeerde deur aan. Sy woonhuis. Nee, beduie sy vrou, hy is langsaan by die AWB-huis. Die kantore van die AWB. Hou "die AWB-wag" daar wag, wonder ek? Ons loop toe om na die huis langsaan. Mens se bene is darem nie soos jellie nie want dit is darem nie soos ‘n “blind date” nie, maar amper. Daar staan ‘n ossewa-replika op die stoep voor die huis. Of was dit ‘n regte ossewa? Is daar nog impi-bloedspatsels op die wielspeke? Die huis staan wawyd ("no pun intended") oop. Ons stap in en verwag khaki en snorre en volkspele musiek en geraamde fotos van stuggesigte. Die dame wat ons ontvang het nie ‘n lang, kuis rok aan nie. Sy spring van haar rekenaar op en beduie ons by die Leier se kantoor in. Ons stap versigtig deur.
Die Leier is op sy selfoon. Wat met ‘n blou toutjie om sy nek vas is. Hy beduie ons om te sit. Ons gaan sit by ‘n groot houttafel. Is veldslae hier beplan, wonder mens onwillekeurig. Hy sluit sy gesprek af en vra ons vraend: “En as julle twee nou soos stout skoolseuntjies daar sit? Kom sit hier!” Ons het op die verkeerde stoele gaan sit en spring gou-gou op om op die regte plek te kom. Hy gee ons elk ‘n stewige handdruk. My baas is Engels verby en het my vooraf gewaarsku om baie te praat sodat hy niks in sy krom Afrikaans hoef kwyt te raak nie. Omdat ek weet hoe sy Afrikaans klink, vermoed ek ons mag 'n menseslagting op hande hê as hy iets in die Taal uiter, toe moes ek net keer. Ek vertel maar van ons werk en vra toe maar, om die bal aan die rol te kry, “Wat is ons kans as Afrikaners in Afrika?” Dit was net die regte vraag. Hy trek toe los en praat oor selfbeskikking en die feit dat die boere in die vorige eeue nooit grond by die swart stame afgevat of gesteel het nie. Grond is regmatig by konings en heersers en grondeienaars gekoop en daar is die nodige dokumentasie onderteken. Selfs Piet Retief, wat met sy lewe moes boet, het ‘n waterdigete koopkontrak met Dingaan gesluit waarvan die oorspronklike dokument steeds bestaan waar dit in sy leersak naby sy lyk opgespoor is. Ons moet ons self beskik, is sy boodskap, en ons by die Verenigde Nasies daarop gaan beroep om te keer dat ander volke oor ons volk regeer.
Eugene Terreblanche is ‘n kort figuur. Natuurlik met die imposante stem en die uitgetrapte stewels, soos mens sou verwag. Maar wat mens nie verwag het nie, was die selfoon om die nek, die oop deur en die maklike toegang; die hartlikheid in hom, selfs teenoor die Engelsman.
Mens mag dalk van baie dinge van hom verskil, maar toe hy ons omtrent "hug" toe ons vertrek, besef mens: hy is ook maar net 'n mens en is lief vir mense. Vir sekere mense dalk net meer as ander...
Die Suigeling
Kopiereg S van Niekerk 2007
0 comments:
Post a Comment