Saturday, October 13, 2007

Die vrou met die hoë stem!

Wie onthou vir Kimera? Lees meer by "Kan jy onthou?"

Van sit en staan is KRUIP die lekkerste!

Daar is planne op pad om die spoedgrens op plaaslike paaie van aanstaande jaar af van 60km/h na 40km/h te verminder, berig BEELD hierdie week. “60km/h is ‘n te vinnige spoed om verby iemand se huis te ry”, beweer hulle. Wat hulle nie besef nie, is dat dit onnodig sal wees om amptelik die spoedgrens te verminder. Aangesien daar deesdae onder elke boom, agter elke kennisgewingbord, op elke paal en langs elke verkeerslig ‘n spoedkamera aangebring is om plaaslike munisipaliteite se jaarlikse kerspartytjies en bonusse te finansier, jaag niemand meer nie. “Jaag” is iets wat in flieks soos “The Fast and the Furious” gebeur,en wat ons glad nie meer is nie: vinnig of vies. Ons het aangepas by ons omstandighede en kom boetevry deur die lewe en by ons bestemmings aan, al vat dit nou bietjie langer as ooit vantevore.

Moet jy (“gou” bestaan nie meer nie, moet dit nie eers oorweeg nie) melk gaan koop by die garage-winkel op die hoek? Of dalk moet jy een van jou kinders by die “mall” gaan oplaai? Maak jou reis meer gerieflik deur van die volgende wenke gebruik te maak:

1. Pak ‘n piekniekmandjie: Kaas en weense worsies is gevul met hope proteiene wat jou vir die hele reis versadig sal hou. Jy hoef nie meer tydens lang reise honger te ly of honger te bly nie. Appels is ook lekker padkos, al eet niemand dit ooit nie, want die geroosterde toebroodjies met die vetterige kaas op in die foelie toegedraai is altyd baie meer aanloklik as die appels, wat jy in elk geval net vir jou gewete ingepak het.

2. Vat genoeg musiek saam vir die pad: mens weet nooit wanneer jou reis verder deur padblokkades of taxi-ongelukke verleng kan word nie, so, hou altyd genoeg musiek van 'n wye verskeidenheid byderhand om elke moontlike gemoedstoestand waardeur jy mag gaan op jou reis, te kan hanteer.

3. Onthou die koelerboks! Hou hom maar altyd in die kattebak. Alhoewel jy dalk net gery het om melk te gaan koop, weet jy deesdae nie meer hoe lank jou reis gaan duur nie. Lewe eerder met die groot boks in jou "boot" saam as om met melk wat so suur geword het, dis byna soos dik karringmelk, hoef saam te leef.

4. Sonblok op die regterarm: jou regterarm brand altyd meer as jy bestuur omdat dit gewoonlik meer aan die son, deur jou bestuurdersvenster, blootgestel word. Rome met faktorbeskerming van 30 of meer word aanbeveel vir enige rit in jou voertuig bedags. Behalwe as jou hemp moue het.

5. Koeldrank vir die kinders: as jy jou kinders iewers gaan oplaai het moet jy altyd seker maak dat daar genoeg vloeistof in die voertuig is vir kinders om te drink. Kinders dehidreer maklik tydens lang ritte. Pasop vir koeldrank wat te soet is. Dit mag die kinders hiperaktief maak en mag die rit in 'n helse nagmerrie laat ontaard.

6. Warm klere: wanneer jy in die nag ry, en dit is boonop winter, maak seker om vir alle insittendes ekstra warm klere in te pak. Die lang rit mag veroorsaak dat kinders koud begin kry. Of as die motor moontlik op pad onklaar raak, mag jy moontlik gedwing word om terug huis toe te stap. Wat jou sal laat wonder hoekom jy nie in die eerste plek maar GESTAP het om melk te gaan koop nie, want enigiets sal korter wees as om deesdae die paaie met 'n voertuig te probeer aandurf!

(KAN JY ONTHOU?)

Haaa-ha-ha-ha-ha-ha-ha-ha-ha-haaa. Nee, dis nie ‘n gelag nie. Dis iemand wag hoog sing. “Kimera” om presies te wees. In die middel 1980’s toe daar basies niks op die musikale front in Suid-Afrika aangegaan het wat popmusiek betref het nie, het hierdie skoonheid op ‘n S.A.L. vlug van Korea af hier aangekom en ALMAL het van haar geweet. Daar is beweer dat niemand in die wêreld hoër note as Kimera kon bykom nie. Sal ons ooit die nagtegaal met die geverfde gesig vergeet?


(DIE ARME ALL-BLACKS)

Daar was oorweeg om 'n nuwe reeks posseëls in Nieu-Seeland uit te bring. Kompleet met al die All-Blacks se gesigte op. Dit gaan egter nie meer gebeur nie. Owerhede is bang dat die publiek verward sal wees. Hulle is bang die mense spoeg meer voor op die seël, as agter op.

Tot volgende keer,
Groete,
Suigeling

Kopiereg 2007 S van Niekerk



0 comments: