Thursday, November 1, 2007

Moet net nie jou tande wys nie!


Twintig jaar gelede was die werkers by Laerskool Theo Wassenaar haas onsigbaar. Hulle is ook aangesê om nie vir die kamera te glimlag nie, netnou sien iemand hulle...


TWINTIG LATER HET ONS 'n SWART PRESIDENT

En die derde swart president is op pad!

Wat weet ons van hom?
  • Hy gaan toi-toi vir geen spesifieke rede nie, by etes.
  • Hy gaan baie oorsee gaan, vir geen spesifieke rede nie.
  • Hy gaan daarvan hou om saam met die koningin en Hillary Clinton, wie dan Amerika se president gaan wees, afgeneem word, vir geen spesifieke rede nie.
  • Hy gaan van Johannesburg af Kaap toe vlieg in 'n privaatstraler, vir geen spesifieke rede nie.
  • Hy gaan op die snelweë in 'n swart motor teen onmoontlike snelhede jaag, vir geen spesifieke rede nie.
  • Hy gaan khaki dra as hy met die Afrikaners vergader, groen en goud as hy met die Rugby-unie vergader, en 'n Madiba-hemp vir die res, vir geen spesifieke rede nie.
  • Niemand gaan van hom nie maar almal gaan vir hom stem.

Ons bly in 'n unieke land! Nie?

My Warreljaagtog: 14 dae, 27 plekke:18 tot 31 Okt.

Balfour is net anderkant Heidelberg en dit was in 1986 net ver genoeg om uit die helder gloei van die goudstad te kon kom om Halley se komeet in lewende lywe te kon sien;

Standerton is gereeld onder water wanneer die Vaalrivier sy walle oorstroom en was die setel van genl. Jan Smuts eendag lank lank gelede;

Morgenzon is so klein, as jy hard nies kan jy hom dalk mis;

Ermelo is een van die koudste plekke in die land en spog nog met Afrikaanse straatname maar 'n dubbelmedium skool;

Breyten is Naas Botha se geboortedorp - tog 'n jammerte;

Carolina lyk deesdae soos Klein Indië;

Hendrina is vernoem na Carolina se lelike suster;

Bethal was so in vloed hierdie slag, daar moes strate toegemaak word;

Secunda het lug waar jy presies kan sien wat jy inasem en horisonne wat jou laat gryp na sterk drank;

Kriel is 'n pragtige dorpie geleë aan die voet van die Berg Genadelose Kragsentrale; Witbank se naam het niks te doen met hoe dit daar lyk nie;

Vanderbijlpark het die lieflikste..... (ek dink nog aan iets);

Vereeniging het 'n plek waar mens afvalvleis kan koop;

Meyerton is 'n spoggerige, netjiese, agtermekaar dorpie met 'n DA-beheerder munisipaliteit;

Ventersdorp het 'n paar garages, weet nie by watter een oom Eugene sy slagoffer byge(kom)dam het nie;

Coligny is waar Hestrie Cloete vandaan kom, sy sou selfs met Jurie Els trou om van die plek te ontsnap;

Lichtenburg se KFC maak lekker "twisters";

Parys het meer oues van dae per vierkante sentimeter as termiete in meeste miershope;

Sasolburg het sy ontstaan te danke aan SASOL en sy longkwale ook;

George is geleë langs die lieflikste berg en mens kan die see ruik;

Haroldsbaai se strand lê vol gholfballe, so mens hoef nie eens te wonder naby watter strand Ernie Els 'n huis het nie, haha;

Mosselbaai het 'n blou kafee in die hawe waar mens die lekkerste vis kan eet, al maak hulle alles met deeg om in diep olie gaar;

Vleesbaai is 'n geheim, moet asseblief niemand daarvan vertel nie;

Albertinia het 'n hotel met die lieflikste Sondagmiddagetes;

Stilbaai se naam is afkomstig van die vet-weet-van-waar-af, want die wind waai reg deur jou terwyl jy alleen in die hele oseaan swem;

Kroonstad is waar Robbie Wessels vandaan kom, wat ongelukkig genoeg rede is om 'n wye draai daar rondom te ry, netnou loop jy hom in die apteek raak, en dan doen hy die leeuloop wat jou sal laat weghardloop;

Welkom is die dorp van die oneindigende verkeersirkels....

As jy meer inligting oor enige dorp nodig het, kontak Willie by (012) 348-2728. Hy het nie 'n ons inligting oor enige van die dorpe nie maar geniet dit as mense hom bel...

HOE WERK 'n VERKEERSIRKEL?

Alle grappies op 'n stokkie...

Nader die sirkel en stop. Die voertuie wat van jou regterkant af kom het voorrang. Wat beteken dat as daar 'n begrafnisstoet van regs af kom, beter jy vetgee of 'n boek saamneem om te lees.

Voorrang is altyd van regs. 'n Verkeersirkel is nie 'n toegee-teken nie.
Bron: Daantjie Kat.

Tot volgende keer,

Groetnis,

Suigeling

Kopiereg 2007 S van Niekerk

VRYWARING: Die SUIGELING is POLITIES heeltemal AFHANKLIK en verklaar ONBESKAAMD: I LOVE HELEN ZILLE!

0 comments: