Monday, March 29, 2010
Wie onthou nog "Die Man van Staal?"
Mens kan ure praat oor gunsteling ou TV-programme uit die verlede. Ek onthou hoe ek en my tweelingbroer vir die SAUK briewe geskryf het en lyste en lyste programname ingestuur het om te vra of hulle dit asseblief weer sal wys? Ek dink ons het selfs gevra dat sekere advertensies weer uitgesaai word, ons het gedink dit werk soos programme.
Dit was nou maar iets in die duistere verlede wat in ons as Afrikaanssprekendes se guns getel het: ons taal is bevoordeel en al die goeie Amerikaanse reekse is in Afrikaans oorgeklank. Flippen goed gedoen, hulle't altyd gesê die Duitsers is die wêreldleiers op die gebied van oorklanking maar ons is beslis tweede.
"Buck Rogers" en "TJ Hooker". "Melrose Place" en "Fox en Vennote". Later kon jy die oorspronklike Engelse klankbaan as "simulcast" op Radio 2000 luister. Was dit ooit uit "sync" uit? Ek kan nie onthou nie. Hoe ouer jy geword het hoe meer het jy die oorklanking begin haat, soos tieners maar is, en was jou linkeroor vasgeklem teen die radio se luidspreker want jy't nie gedink jy sal nog een episode oorleef waar Rina Nienaber die stem van Heather Locklear opvoeter nie. Die lippe sê: "How are you my love?" en Rina sê: "Hoe gaan dit, diertjie?"
Met Europese tale het dit darem sin gemaak in Afrikaans. "Derrick" byvoorbeeld. Horst Tappert was Derrick. Hy is so 'n paar jaar terug gelede oorlede, was in die 80. Ek reken nou, jare later, dat die groot skurk eintlik maar Derrick was want wat het elke "crime scene" in gemeen gehad? Derrick was daar... Laat jou dink...
"Onder die Dekmantel" was tragies want die hoofkarakter is dood tydens die verfilming (Jon-Erik Hexum 1984), "Outoman" was "cool", hy het 'n baie BLOU blink oorpak aangehad.
In die 90's het Afrikaans skielik uit die mode gegaan op TV en niks is meer oorgeklank nie en dis grootliks steeds so, behalwe vir iets hier en daar op kyknet. Gelukkig het ons nog 'n paar goeie herinneringe op videoband. Ook maar gou oorsit op DVD, anders kan jy ook een van die dae niks meer daarmee doen nie.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
0 comments:
Post a Comment