Saturday, March 28, 2015

Ballade vir 'n Enkeling: die fliek

Eers was daar die TV-reeks, en nou, dertig jaar later die fliek. Ek het net een woord: stomgeslaan. As ek Engels was het ek twee woorde gebruik: Blown Away.

Ek het self die TV-reeks jare gelede gekyk. Op laerskool. Ek het selfs nog die openingskenwysie iewers op 'n ou VHS-videoband. Nou het Leon van Nierop die storie verwerk vir 'n fliek en die resultaat is roerend.

Dis te lank terug dat mens die storie eintlik in detail kan onthou. Wat help. Wat jou soveel meer verras laat. In die TV-reeks mag daar destyds ook nie woorde groter as "foei" of "ramkat" gebruik word nie, wat nie die geval met die fliek is nie. So, "gekruide taal" is daar heelwat van. Maar as mens daar verby kan kyk, sien jy iets wat jou meesleur en verras.

Die musiek in die fliek klink bekend ("Enkeling", Voshaarnooi"), maar die uitvoering is alles nuut. Regdeur die fliek word mens deur bekende en onbekende klavierklanke, asook ander juwele saamgevoer. Van die begin, saam met Richard van der Westhuizen, tot aan die einde saam met die Heuwels Fantasties word jy op 'n bekende, maar nuwe ontdekkingstog geneem.

Die storie is modern en vars en laat mens trots voel om Afrikaans te kan wees en sulke produksies in Afrikaans te kan beleef. Wat vir my uitgestaan het is: dit wys die nuwe, pragtige dele van Johannesburg se middestad (soos Maboneng), almal speel goed toneel, die kinderweergawes van karakters lyk baie na aan die volwasse weergawes, die storie is nie vergesog soos so baie keer in flieks gebeur, of stroperig soetsappig nie.

As mens by die teater uitstap is jy amper gedisorienteer. Daai klaviernote van "Enkeling" bly jou by. En die besef: hoe mense ander mense, en hulle eie lewens kan vernietig deur leuens en refleks-besluite.  Beslis 'n kyk werd. 9 uit 10.

ABBA-wensdenkery

Dit is so opwindend dat ABBA nou uiteindelik Suid-Afrika toe kom! 32 jaar nadat hulle opgebreek het voel ons gevlei dat hulle ons land gekies het om 'n terugkeer na die wêreldverhoog te maak. Net 'n waarskuwing: vandat Agnetha op die suurstofmasjien is en deur die masker moet sing, klink "The Winner Took it all", nog mooi maar nie heeltemal meer dieselfde nie. En Frida - met die 'husky stem' - wel, dit is nou 'husky light', en vandat sy haar stuitjie moes laat verwyder na die ski-ongeluk in 1987, is "Fernando" ook nie meer dieselfde nie. Noudat sy op 'n stoel moet sit langs haar sangmaats om die vuurtjie. Mens merk ook amper nie eers die loopraam op nie, dit lyk soos 'n mikrofoonstaander. Amper.  Bjorn sing nog OK, sy geheue is net nie meer so lekker nie, maar dit het nie sy sang aangetas nie. En Bennie speel nou klavier met 'n rugstut. Maar die stut is so goed verbloem, al wat uitsteek is so een pienk gedeelte wat nie deur die spandex-top bedek kon word nie. In die naweek waar Dana Winner en One Direction ons tref het ek gaan dink:  dis dalk beter om na jou gunsteling popsanger te gaan kyk en luister terwyl hulle wel nog SA toe kom, en nog vanself die mikrofoon kan vashou. O ja, en die deel oor ABBA was wensdenkery. Maar niks is onmoontlik in ons vreemde wêreld nie.

Wednesday, March 25, 2015

Randse Skou: pret langs die mynhope

My vroegste herinnering aan die Randse Skou was toe ek baie klein was en 'n toffie-appel geëet het wat groter as my kop was.  Daar was net iets betowerend aan daardie dag en sedertdien is ek steeds 'n Skou-junkie. Hierdie jaar is die Skou al 119 jaar aan die gang en volgende week is dit weer sulke tyd. Kyk, in 119 jaar het baie aan die Skou verander. Ek weet nie op watter heuwel of in watter skuur hy begin het nie, ek weet net dit was in Aucklandpark toe ek die eerste keer gegaan het - waar WITS vandag is - maar sedert 1985 is dit by Nasrec Uitstalsentrum, heel gepas naby  die Randse Skou afrit op die N1, en tussen die mynhope. Vir kinders is en was die groot trekpleister nog altyd die pretpark, die "rye". Die "Looping Star" roller coaster (want "roller coaster" klink baie beter as 'wipwaentjies'), die swaaie, die skulpe, die Break Dancer, die Spookhuis en die Rotor, wat in die rondte gedraai het terwyl jy aan die muur vasgesuig het, en die grond onder jou weggeval het. Vandag is die rye meer modern, maar sekere van die ou gunstelinge is nog daar. Die Skou is in effek 'n uitstalling, met allerande ware wat in die groot uitstalsale aan die publiek vertoon word. Soos die meubelsaal. Of die saal met die "gadgets". Oral is demonstrasies en goed waaraan jy kan proe of ruik of voel. Iemand maak jou skoene skoon by die een stalletjie, probeer 'n koffiemasjien aan jou verkoop by 'n ander, of 'n borrelbad, of 'n snoekertafel, kompleet met muurbehangsels van honde wat snoeker speel, op. Ander ou bekende uitstallings is die karavane, en die weermag. Kosstalletjies is oral en daar is selfs 'n vlooimark. Mens sou sweer ek word betaal om die Skou te bemark. Maar dis nie waar nie. Daar is net soveel jare se wonderlike herinneringe vasgevang by hierdie jaarlikse fees dat ek nie anders kan as om liries daaroor te raak nie. Nou goed, die toegang is nogal duur en die Skou is deesdae kleiner as die verlede. Maar vir 'n uitstappie vir die gesin op 'n koel Aprilaand is daar baie om te doen en sien by die Randse Skou. En daar is sekerlik nog toffieappels ook. Ek dink net ek gaan sukkel om deesdae een te kry wat so groot soos my kop is.

Sit vir oupa daar 'n plaat op

Wat het ons geluister voor ons plate gehad het? O ja. Plate. "Langspeelplate". Wie sou selfs net 'n paar jaar terug kon dink jy daag by 'n braai op en, soos jy instap, vra iemand: ag, terwyl jy nou by die platespeler verbyloop, sit sommer daardie nuwe plaat van Bobby van Jaarsveld op, asseblief? Hoe bisar. Vir ons klomp wat in die 70's kinders was kan niemand enigiets van plate vertel nie. Van ons lekkerste tye was om partytjies te hou en plate te luister. Baie soos vandag. Om nie te praat van die kinderplate wat ons "opgeluister" het nie. Dit was goeie tye, maar in die 90's is ons deur CD's gered van krapperige plaatklanke van die 70's en die dowwe klank van die 80's se kassette (wat op 'n goeie somersaand sommer deur die kassetspeler opgevreet sou word). Nou het die wiel gedraai. Teruggedraai. Plaaslike sangers, en internasionales ook, gee nou weer hulle musiek op plaat uit. So, moenie verbaas wees as jy een oggend in jou sitkamer instap en sien 'n venster is gebreek, maar al wat vermis word is jou ou plate nie. Plate is nou weer in aanvraag. Wonder bo wonder wil mense weer soos van ouds 'n ou-bekende ritueel uitvoer. Hulle wil 'n plaat van die rak afhaal,  die platespeler aansit, die plaat uit sy omslag haal, hom korrek posisioneer op die speler, die naald oplig en dit plaas op die draaiende plaat op die draaitafel. Dis nogal omslagtig. En jy kan ook nie die hele plaat in een beweging deurluister nie. Aikona. Op 'n stadium moet jy hom omdraai om na die ander helfte op die ander kant van die plaat te luister. Kant 1 en kant 2. Onthou ook: langspeelplate speel teen 'n spesifieke spoed - drie-en-dertig en 'n derde. As jy die speler op 45 sit, gaan Bobby klink soos 'n smurfie. Lyk my, in die lewe verander baie dinge, maar baie dinge bly dieselfde. Soos met plate. Selfs oupa sal verbaas wees as hy vir sy agterkleinkind vra om vir hom 'n plaat van Pat Boone op te sit. Die kind sal waarskynlik weet hoe om dit te doen en het dalk onlangs self die hele reeks van Pat Boone se plate op e-bay gekoop. Of miskien Piet Botha of Pat Benatar.

Monday, March 16, 2015

Waar daar 'n rokie trek...

Toe die steak die rooster tref besluit jy met genoegdoening hierdie gaan 'n lekker aandjie wees. Die gaslamp staan op die opslaantafel, en die kinders hardloop in die rondte daar om soos motte om 'n kers. Onder die gesuis van die briljante stukke vleis op die kole is daar 'n kriekekoor aan die gang wat jou net weereens herinner dat dit somer is en dat hierdie die lekkerste tyd van die jaar is om in die aande langs 'n braaivleisvuur te sit en die naggeluide in te neem. Hier langs die vuur voel mens so ver verwyderd van die regte wêreld daar buite, en die gewone dinge wat gewoonlik jou tyd saans in beslag neem. Jou vrou skink vir jou 'n knertsie, en so sit julle in stilte en luister na hoe die somersaand homself uitspeel, anders as gewoonlik wanneer die kinders een of ander blêrende rekenaarspeletjie speel, of die alarm afgaan, of iemand die klokkie by die hek lui, of 'n radio iewers aan is. Jy vat rustig nog 'n sluk uit jou glas en dink oor die haastige pas van die lewe. Oor werk, en stres en al die ure wat mens insit in 'n resies wat meestal na niks meer as 'n blote gejaag na wind voel nie. Oor hoe min mens regtig net stil op een plek gaan sit en niks doen nie, behalwe om te kyk hoe vleis braai en kinders speel. Dit gebeur nie baie nie. En toe is die vleis gaar en die kinders het bedaar en eet julle as gesin saam om die opslaantafel - by gaslamplig, saam met 'n bietjie lig van die gebluste braaivleisvuur en die volmaan wat laag op die horison hang. Hierdie lewe is iets waaraan mens gewoond kan raak, dink jy, en waarskynlik sal moet want "load-shedding" het ons verander in kampeerders in ons eie tuine saans. Iets wat nie noodwendig altyd 'n slegte idee is nie.

Monday, March 2, 2015

Back to the future!


As jy so op jou bank gelê het die vakansie en na ou flieks gekyk het, sou jy sien in "Back to the future 2" reis Marty McFly van 1985 na 2015. En dis toe wat jy besef: dis 2015! Die toekoms is hier! Maar net toe jy in jou blink oorpakkie in jou supersoniese vaartuig gou Spar toe wou vlieg, om van daardie miniatuur pizzatjies te gaan koop wat woeps-waps in groot pizzas verander, besef jy: jy besit nie silwer klere nie en al hoekom jou kar nie wiele het nie is omdat die bande laasnag afgesteel is. En, o ja, daardie pizzas is ook nog nie op die mark nie. Om een of ander rede, in flieks wat oor die toekoms handel, vlieg almal altyd rond in ruimtetuigies, dra silwer of goue klere wat te styf sit, en het robotte vir vriende. Dalk het ek net te veel Buck Rogers-reekse gekyk. Die toekoms lyk toe eintlik glad nie so anders soos al die TV-reekse en flieks voorspel het nie: ons ry nog in gewone motors rond en pizza kom nog steeds in 'n boks so groot, dit sal nooit vanself in 'n standaard, groen, Alberton-asblik pas nie. Maar, dan weer, as jy mooi daaroor gaan nadink het die lewe eintlik, in sekere opsigte, drasties verander sedert 1985. Behalwe die politieke veranderinge in die land, is daar eintlik te veel goed om op te noem. Soos: die melkman lewer nie meer melk by jou voordeur af nie, jy moet dit self aflewer; jy kyk nie meer flieks op 'n TV-stel so groot en swaar soos 'n sumo-stoeier, of gaan huur videobande met flieks op by die videowinkel wat jy op jou videomasjien speel nie; niemand skryf meer vir mekaar briewe en pos dit in 'n posbus by die poskantoor nie; ons het selfone, skootrekenaars, i-pads, die internet, dstv, pvr... So, al vlieg ons nog nie rond op skateboards, of gaan ons voordeure elektronies oop soos in Back to the Future nie, ten minste gaan daar baie meer aan by die druk van 'n knoppie in 2015 as in 1985. Dis nou te sê as die krag nie af is, of jy in die swembad gespring het met jou selfoon in jou sak nie.