Saturday, July 18, 2015

Kyk hoe lyk ons nou (of wil ons?)

Jy het omtrent al van almal vergeet, behalwe vir jou twee beste vriende. Tot jy die dag 'n e-pos kry van 'n vrou wie se naam vaagweg bekend klink,  en skielik onthou jy hulle almal, want jy gaan hulle oor 'n maand by die matriekreĆ¼nie raakbraai. Nie dat jy eintlik daarna uitsien nie. Want 10 (of 20 of 30) jaar nadat jy by die skoolhekke uitgehardloop het dat jy so klein word, is jou motivering om omtrent enigiemand saam met wie jy jou kinderjare op die skoolbanke spandeer het, weer te sien, minimaal. Sien, jy het kontak behou met die belangrikste mense, en al hoekom jy besluit het om te gaan, is uit blote nuuskierigheid. Hoe lyk almal deesdae? Het party hulle oorgegee aan 'n lewe van drank en slegte vrouens, of is die meeste nog OK? Is iemand al oorlede, of trek hulle maar net snaaks aan as hulle so uit die oranje Cortina met die pelserige dobbelstene, wat van die tru-spieeltjie af hang, klim? Dis gewoonlik die dag wat veral die vroulike geslag uithaal en wys - met hulle klere en hare en juwele. Eintlik die mans ook: om 'n sportmotor vir 'n dag iewers te leen is nie te moeilik nie. Almal wil die illusie skep dat hulle super-suksesvol en superryk kon word in 'n dekade of drie. Of geseĆ«n is met 'n groot kroos (onthou net, as jou broerskinders die dag heeltyd kliphard kla "oom, ek wil nie hier wees nie", is dit nogal 'n give-away). Behalwe vir die illusie van sukses, rykdom en vrugbaarheid is die ander illusie van die dag die idee dat enigiemand regtig verander het in 10 of 20 jaar. Almal kuier nog in dieselfde groepies, en die persoon wat jou al vir 'n dekade nie groet as hulle verby jou stap in Alberton City nie, gaan nie skielik by 'n braai begin om dit te doen nie. Jy is self dalk daardie persoon. So sit en gesels jy maar saam, roep herinneringe op, spog 'n bietjie, kla 'n bietjie, en praat oor wat van oud-onderwysers geword het. Tot die son sak, en jy vir oulaas almal groet. Dan kan jy huis toe gaan, die vrou met die bekende/onbekende naam se e-pos (en besonderhede) gaan uitvee op jou tablet, die geleende klere en kinders terugvat en wens jy het eerder daardie Saterdag by die huis gebly en kyk hoe die verf aan jou varsgeverfde mure droogword.