Sunday, January 28, 2007

"Spot" die Dodo


OK, dis nie ‘n DODO nie. Maar dis ‘n voël waarvan daar maar omtrent 1500 in die wêreld oor is. En ons het vandag ‘n paar raakgery, by wyse van spreke, by die Mabula Wildplaas in Limpopo: Die BROMVOëL. Hul gesigte en kele is rooi en hulle is op hierdie plaas hervestig.

Die een bromvoël sê vir die ander een: “My vrou is bietjie oorgewig, wat kan ek doen?” Die ander een vryf sy rooi baard so bietjie en sê toe: “Laat haar elke dag so 500m hardloop, vir sewe dae.” “En dan?”, vra die eerste. “Na sewe dae is sy dan al 3.5 km van jou af weg!!”

Dit doen nie veel vir die spesie nie, maar baie vir baie ander probleme!

KAMOEFLEERGRAPPIES:

- ONDERWYSER: “Jannie! Ek het jou nie gister in kamoefleerklas opgemerk nie!”
JANNIE: “Dankie, meneer!”

- Ek het gister kamoefleerdrag by die winkels gaan soek maar kon niks kry nie…

KROKODILGRAPPIE

Mike Schutte (OK, dis ‘n ou grappie) wil vir hom krokodilleerskoene gaan koop. Toe hy by die winkel kom, sien hy die skoene kos R 3000 per paar. Hy besluit toe – daar moet ‘n ander manier wees. Hy kry toe ‘n permit om self ‘n krokodil te gaan skiet. Met groot moeite kry hy toe een geskiet. Toe hy die dier toe uit die water getrek gekry het, draai hy dit om – en met sy geluk sal dit nou ‘n krokodil wees wat nie skoene aan het nie!

DIE LAASTE GRAPPIE….

Jannie is baie bang vir die donker. Sy pa vra hom om ‘n besem uit die kas onder die trap te gaan haal. Hy wil egter nie want hy is bang vir die donker. Sy pa sê: “Jy hoef nie baie te wees vir die donker nie, Liewe Jesus is oral – Hy is in die donker ook!”. Jannie voel toe beter. Hy stap nie die kas toe, maak dit oop en vra: “Liewe Jesus, gee asseblief vur my die besem aan!” – Die onskuld, darem!


Groete,
Suigeling


KOPIEREG 2007 S van Niekerk

Saturday, January 20, 2007

Rivier-af…


Hulle laai jou op ‘n plastiekboodjiedingetjie (jy laai eintlik jouself), hulle gooi jou ‘n geredde lewe-baadjie, ‘n harde, blou “helmet” waarop “Gummy” of “Terminator” in swart koukiepen geskryf is en ‘n roeispaan. Voor jy jou kan kry is jy op die Vaalrivier en ry jy die “rapids”. Die water is warm, klippe trek jou en jou roeigenooi soos magnete aan om ‘bo-oor’ hulle te ry in plaas van ‘om’ en skielik het jy iets gedoen wat jy nog nooit gedoen het nie en beslis nooit weer sal misloop om enige tyd weer te doen nie! –Parys, 20 Januarie 2007.

10 Onwaarskynlikhede in 'n MINIBUS-TAXI

1. 'n Getekende foto van Tony Leon


2. 'n Muis


3. 'n Tas met ‘n luislang in


4. Stilte


5. Ou Ryperd wat hard oor die luidsprekers bler


6. Vars lug


7. SPF40+ Sonbrandmiddel


8. 'n Huisgenoot


9. 'n Halfgeleesde kopie van “Versamelde Verse”


10. 'n Cora-Marie-CD

Loop saam met my in die sneeu by:
http://www.youtube.com/watch?v=YT7JzmHbn_M

Kyk saam met my hoe die Alpe lyk by:
http://http//www.youtube.com/watch?v=IK1_Z6wQy_k

Kopiereg 2007 S. van Niekerk

Saturday, January 13, 2007

RSA: 10 Onwaarskynlikhede






1. ‘n Polisiebeampte wat vinniger as jy kan skryf.

2. ‘n Kassier by Pick ‘n Pay wat glimlag as jy naderkom en vriendelik vra of sy kan help.

3. ‘n Toneel uit Sewende Laan waar Hilda hardop begin snik en erken sy het ‘n seksueel-oordraagbare siekte.

4. ‘n Nuusbulletin op TV sonder enige opbouende berig oor die regering.

5. ‘n Blonde vyftienjarige dogter wat vrolik om halfdrie in die oggend deur ‘n veldjie in Krugersdorp begin huppel en ongedeerd aan die ander kant uitkom.

6. ‘n Een-en-twintigste verjaardagpartytjie op ‘n Saterdagaand waar helfte van die mense vroeg huis toe gaan omdat hulle moreoggend kerk toe moet gaan.

7. ‘n Week in Gauteng, enige tyd van die jaar, wanneer die son glad nie skyn nie.

8. ‘n Braai in Boksburg waar slegs soja “patties” gebraai word.

9. ‘n Kafee in Pretoria wat weier om Coke te verkoop.

10. ‘n Snelweg-oprit in Johannesburg, waar ‘n vriendelike taxi-bestuurder jou inlaat om maklik van die linker na die regterbaan oor te beweeg.

‘n Groot persentasie polisiebeaptes is nie bekwaam om hulle werk te kan doen nie en moet waai, sê Mangosotho Buthelezi; goeie diens is ‘n mite in voorstedelike Suid-Afrika; Hilda gaan nog met daardie nekdoek om haar nek doodgaan op TV, maar eerder aan verwurging as iets anders; dankie tog vir e-tv nuus; hoekom wil blonde dogters daardie tyd van die ndag deur veldjies huppel, dis Afrika hierdie!; die kerke is leeg en die kroeë vol – ‘n volk sonder ruggraat; ‘n sprankelende feit oor ons weer is dat ons altyd sonskyn het; Afrikaners sal eerder doodgaan aan cholesterol as ‘n vitamien B-tekort; Coke is die olie wat ons samelewing aan die gang hou, tot Pepsi eendag oorvat (sien nota oor Vryheidsfront se plan om eendag te regeer); spaar jouself die pyn en hou links: red jou vrede, red jou vreugde!

Suigeling

Kopiereg S van Niekerk 2007

Sunday, January 7, 2007

HUISBRAAK: 20 stappe ter beskerming

Fotos deur Bronwen Watson Photography



1. Trek. Gaan bly langs 'n spruit en lewe soos 'n plakker.



2. Brand jou huis af, eis van die versekering, en gebruik die geld om Lesotho toe te emigreer. Nie minder probleme daar nie, maar ten minste is die lug dunner.


3. Bring 'n kennisgewing, in blou neon, teen jou erf se buitemuur aan: South African Police Service: Bryanston Branch


4. Lê skelm stringe liggies op jou buurman se muur aan, om aandag na sy erf aan te trek en weg van jou erf af. 'n Flikkerende pienk neon pyl kan ook help.


5. Plaas diefwering voor elke deur wat kan oopmaak. Nota: dit mag gewenste familie ook uithou...


6. Plaas "milk stout" op strategiese plekke in jou erf. Sal enige voornemende skelm wat oor jou heining spring, se aandag aftrek.


7. Speel ophoudelik kliphard kwaito musiek. Die skelms sal jou uitlos. Hulle sal dink 'n tjommie bly daar.

8. Trek. Gaan bly onder 'n brug en lewe soos 'n onwettige Zimbabawese immigrant.


9. Leer Shona. Jy kan jou dalk uit 'n inbraak onderhandel.


10. Plaas gereeld "Op Skou" bordjies op jou bure se sypaadjies.


11. Konstrueer "fake" inbrake by jou huis om die polisie se reaksietyd te toets.


12. Trek. Gaan bly op 'n straathoek in Rosebank, dis ten minste naby aan die winkels.


13. Moet nooit gaan slaap nie. Wag hulle in. Kyk flieks of iets. Skryf briewe. Brei truie vir 'n inkomste.


14. Leer skiet. Oefen op verbygangers.


15. Plant landmyne oral in jou tuin. Waarsku die tuiner waar hulle is. Waarsku hom weer. En weer.


16. Moenie 'n tuiner hê nie. Of 'n bediende nie. Maak of jy in Europa bly en maak self huisskoon. Bad ook net een per week. Die Europeers doen dit. Jy kan dan ook.


17. Leer Russies. Die skelms is dalk ook. ("Highly Unlikely". Sien nota oor "Shona")


18. Trek. Trek by familie aan die Oos-Rand in. Hulle doen dit so daar.


19. Moenie ligte in jou huis aansit nie, dit trek skelms se aandag.


20. Moet nooit uit die huis gaan nie. Wag hulle in. Speel Robbie Wessels as hul inkom. Hulle sal vanself, gillend, weghardloop.


As hierdie voorstelle nie vir jou werk nie het jy uit die aard van die saak nie mooi gelees hoe hulle werk nie!


KOPIEREG S. van Niekerk 2007


Friday, January 5, 2007

TIEN JAAR, en baie grappies later...

Eendag, lank lank gelede - voor 10 miljoen webtuistes en blogs op die Internet verskyn het, toe Bill Gates nog jonk, en almal van ons nog armer en leliker was, was daar.... Uit die Mond van die Suigeling! Hierdie was een van die eerste Afrikaanse webtuistes wat ooit verskyn het. 35 000 besoeke, en 10 jaar later, verander "Uit die Mond van die Suigeling" vandag in 'n blog.... 'n geselsgat.

En net om jou te herinner aan wat Suigeling was (as jy te lui is om te soek onder "Uit die Mond van die Suigeling" op google - want die ou weergawe bestaan nog vir 'n kort rukkie), hiermee ietsie wat jy te wagte kan wees......

Staan op jou STAANdpunt!

Dit is wat van Suid-Afrika so 'n wonderlike land maak. As jy deur Edgars loop en in die middel van die paadjie wil gaan stilstaan, kan jy. Behalwe as iemand jou uit die pad loop, of jy vir vier ure staan en 'n veiligheidswag wonder of jy dalk met 'n staanstaking besig is.Jy kan bo-op die Drakensberge se hoogste piek gaan staan. Stilstaan. Sorgvry. Jy kan staan solank as wat jy wil, of solank as wat jou suurstoftenk wil hê jy moet.Jy kan in die see staan tot spring-gety en 'n brander jou omslaan of jy kan in die woestyn staan tot jy omval van dors.Staan kan jy staan, dis 'n vry land.Ek het net gewonder. Ja, almal het regte en dis 'n vry land... maar hoekom moet ek vir 'n swartpet wat sy demokratiese reg om te staan uitoefen, en toevallig langs my kar gaan staan het, geld gee omdat hy daar staan. Hy kan mos staan waar hy wil. Sê ek mos.

Tot ons weer gesels...