Ek het Eugene Terre'blanche in Julie 2007 ontmoet.Dit was eintlik snaaks hoe dit gebeur het. Een van my kliënte was 'n mediese dokter wat die enigste dokterspraktyk op die dorp gehad en ek het altyd met die ontvangsdames geskerts en gevra of Eugene Terre'Blanche ooit daar by hulle kom. "Ja, hy is 'n pasiënt", het hulle gesê. Hoe dan anders? Met slegs een dokterspraktyk op die dorp, waarheen sal die dorp se bekendste/berugste bejaarde inwoner gaan om sy klem in die kaak inspuitings te kry?
Ek het gedink: ek wil hom ontmoet. Nie dat ek 'n aanhanger is of ooit was nie. Volgens my was hy 'n uitstekende spreker. Hy kon mense opsweep. Dis al. En hy het eendag van sy perd afgeval. Ek't gehoor hy was in die tronk omdat hy iemand aangerand het.Maar wat ek ook gehoor het is dat hy verander het. Dat hy sy hart vir die Here gegee het. Hy is blykbaar nie meer die Eugene van vroeër nie. Ek was nuuskierig om te sien hoe hy "deesdae", daardie tyd, was.
Ek het die praktyk een maal per maand op besigheid besoek en eendag, toe ek weer daar kom, sê die dames: oom Eugene wag vir jou. By sy huis. Yskoud geskrik.
Saam met my daardie dag was 'n kollega. Engelssprekend. ERG Engelssprekend. As jy vir hom net te vinnig "haai daar" sê, sou hy glimlag en sê: "What was that?"
'n Maklike verskoning sou seker wees om te sê: oom Eugene is seker op sy plaas, by die opstal, ons het nie vandag tyd om al die pad... Nee, hy's hier by sy huis op die dorp. Net om die draai. Geen omdraaikans nie. Hy "wag dan vir my."
Met 'n paar "links hier" en "regs daar" aanwysings kry ons sy huis. Ek gaan klop aan die deur. Geen antwoord. Ek sien reg langs die woonhuis is daar 'n ander huis - ook sonder 'n heining (dis Ventersdorp). Al verskil is, daar is 'n groot ossewa op die voorstoep. Ek en die Engelsman stap oor soontoe. Die Engelsman se ma is in Engeland gebore - sal oom Eugene dalk dink hierdie is 'n inval van die geallieerde magte? Ek besluit om maar die kans te vat.
Ons klop aan die deur, wat oopstaan. Binne lyk dit soos 'n ontvangslokaal. Soortvan. 'n Boere ontvangslokaal. Stowwerig. Min meubels. 'n Rekenaar. 'n Onversorgde jongerige dame skarrel rond. So, dit is nou die AWB se hoofkantoor. Met die ossewa-replika op die stoep. Ek dink my stem het bietjie gebewe toe ek vra: "Is mnr, Terre'Blanche dalk hier?" Die dametjie kyk my aan en sê: die Hoofleier is net op die foon, gaan solank deur na sy kantoor toe. Ek en Lord Milner stap deur. Niks fênsie. Nêrens nie. Die plaasmense hierdie. Met huise op die dorp. Eugene Terre'Blanche lyk korter as op die fotos, as agter die kateders. En ouer. En ek het hom nog nooit met 'n selfoon, wat aan 'n oranje nylon toutjie om sy nek hang, gesien nie. Dan weer, ek het hom nog nooit gesien nie. Hy is op die einste selfoon aan die praat. Hy wys ons moet sit. Maar waar? Daar is 'n paar sitplekke in sy kantoor. In die een hoek staan 'n lae tafel met stoele en ek en Tony Blair neem toe daar plaas. Toe hy die oproep beëindig gee hy ons een kyk en vra: "En as julle soos twee stout seuntjies daar sit?" Maar hy brul nie die woorde soos ek verwag het hy sou nie. Hy praat sag. En hy is vriendelik. Selfs met Virginia Woolf se seun langs my.
Hy vra nie hoekom ons daar is nie. Dit maak nie saak nie. Seker maar net nog nuuskierige mense van die stad, dink hy seker. Prince Charles langs my wil iets sê maar ek knip sy sinne kort. Kom ons hou dit by verstaanbare Afrikaans, dink ek. Ek besluit: kry die oom aan die praat, hy lyk soos iemand wat tot in jou siel kan kyk en ek's nie baie lus om oor myself te praat nie. Laat hom praat, vra hom vrae. (Sekere van sy antwoorde is in 'n vorige uitgawe van hierdie blog te lees by 2007 se uitgawes).
Hy sê onder andere hy het nie van sy perd afgeval nie, die SAUK het dit net so laat lyk met hul gedokterde beeldmateriaal. Ons praat oor die toekoms van die Afrikaner in die land en hy sê al kans is selfbeskikking. Hy sê hy gaan hom op die VN beroep om die Afrikanervolk se noodroep te hoor, die volk word onderdruk deur andere en volgens sekere konvensies is dit onwettig. Hy vertel ook van Piet Retief en die leersak wat by sy lyk gevind is met 'n ondertekende grondkoop dokument. Dingaan het ook daar geteken. Ek kom agter hierdie man kan ure praat. Dis wat hom bekend gemaak het (die ander dinge wat hy gedoen het, het hom "berug" gemaak).
"Daar is magte wat my stil wil kry", sê hy, hy het onder andere klaarblyklik 'n digbundel geskryf wat net nie gepubliseer kom nie en hy glo dis daardie magte wat sy mond wil snoer. Is hulle nie bang vir aanvalle op die plase nie, wonder ek hardop? Nee, sê hy, hulle gebruik moderne tegnologie hier op die platteland - hulle het 'n unieke sms-stelsel waarmee hul sms'e na mekaar stuur wanneer iemand in nood verkeer. Dat hulp vinnig kan opdaag wanneer jy aangeval word...
Die gesprek staan einde se kant toe. Ons moet groet, moet nog aanry Lichtenburg toe. Hy groet ons vriendelik en hy laat selfs my en Wilbur Smith toe om fotos saam met hom te neem op die stoep. By die ossewa. Hy sit skoon sy arm op die Engelsman se skouer. Ons groet. Ry weg. Dit was 'n interessante gesprek, dink ek. Hy was anders as wat ek gedink het hy sou wees. Ek dink die tronk en ouderdom en die Here het die angel van die eens hatige boeregeneraal getrek.
Toe die nuus van sy dood deurkom, op 'n sms, nou die ander Saterdagaand om tien voor elf, was ek geskok. Toe die beeldmateriaal kort daarna oor die TV-skerm begin rol - van die Ystergarde en marsjerende AWB-magte, het ek gedink: dis mos nie hoe hy meer was nie, maar dan weer - leer mens iemand werklik ken in 'n gesprek van 'n paar minute?
Die jong swart man van 'n buurplaas se woorde kort na die dood bly my egter by: "Ek gaan oom Eugene mis. Hy het verander. Hy was nie meer die man wat hy daardie tyd was nie."
Dis wat ek ook gedink het. Behalwe die deel oor die mis.



