Sunday, August 2, 2015

Agent 008 vang 'n oog

Iets vang jou oog. Die man wat agteruit met 'n bakkie in 'n erf inry. 'n Vrou verskyn by die deur. Verbeel jy jou of lyk sy op haar senuwees? Jy sukkel om alles mooi te sien, daar waar jy agter die groot struik op die sypaadjie in jou draftekkies wegkruip. Die man klim uit die bakkie uit en jy verwag dat hy enige oomblik 'n pakkie wit poeier aan die senuweeagtige vrou by die deur gaan oorhandig. Tot jy sien dis nie poeier nie, ook nie 'n silwer tas vol geld nie. Dis net 'n bord gekookte kos wat hy aangee, en sy is nie eintlik senuweeagtig nie, besef jy, dis seker net hoe iemand lyk wat honger is. Dit was toe nie 'n "drug deal" nie. Nie dat "drug deals" nié onder ons neuse plaasvind nie. Of ander geheime transaksies. Soos die ou met die swart fluweeldoekie wat in 'n winkelsentrum se parkeerterrein skielik langs jou kar verskyn en 'n goue ketting te voorskyn bring wat hy aan jou wil verkoop. Partykeer lyk iets egter soos 'n geheime of verdagte operasie, maar dan is dit nie. Soos jy, as jy in die laatmiddagskemer in die kafee op die hoek se ingang verskyn en die buitelandse kafee-eienaar se oog probeer vang. Toe jy sien hy sien jou, stap jy vinnig nader na die toonbank toe. Daar is niemand anders by die toonbank nie. Ook maar goed, want ander mense sal nie die boodskap verstaan nie. "Do you have a time?", vra hy. "Eight o' clock", sê jy, "eight o'clock tonight". Jy is nie op jou senuwees nie en hy ook nie, want jy moes hierdie boodskap al baie keer aan hom oordra. Dan draai jy om en stap by die winkel uit. Vir 'n buitestaander kon dit klink na 'n afspreektyd vir 'n geheime transaksie, dalk 'n "drug deal". Maar jy weet dit is nie. Jy weet jy het net, soos gister, vir hom gesê wanneer "load shedding" vanaand gaan wees. Want dit lyk nie of buitelanders die skedules so lekker kan lees nie. En jy bly dit elke dag amusant vind dat jy soos 'n wafferse Agent 008 nie-geheime tye aan gewillige slagoffers oor kan dra.

No comments: