Sunday, August 2, 2015

Starbucks: nog een koppie koffie..

... kan die einde van die aand met nog 'n wyle uitstel voor ek huis se kant toe staan... Die woorde van Lucas Maree se bekende liedjie weerklink oor die koffielandskap van Suid-Afrika, op dieselfde tyd wat ons die nuus verneem dat Starbucks hulle koffiewinkels nou hiernatoe gaan bring. Dit is in samewerking met die maatskappy Taste Holdings (wat o.a. Scooters Pizza, Domino's Pizza en Maxi's Restaurante besit).

Starbucks is legendaries. Vir koffieliefhebbers was Starbucks tot dusver amper 'n rede hoekom jy op 'n vliegtuig sou hop om Amerika of Europa toe te gaan. Vir diegene wat baie oorsee gaan het die nuutjie egter in baie gevalle al vervaag en kom woorde soos "duur" en "overrated" in gesprekke op. "Amerika se koffie is nie baie lekker nie", sê iemand nou die dag in 'n gesprek, nadat hulle van daar af teruggekeer het. En ek kan dit beaam. Ek self moes lank en ver soek om "lekker" koffie in Amerika te kry. Dunkin' Donuts was byvoorbeeld nie so 'n plek nie.

Maar wat Starbucks tog wel daar regkry, en ook vir my, is om so 'n wye reeks koffies aan te bied, dat, as jy nié iets in hulle reeks kry waarvan jy hou nie, jy seker dan eerder 'n teedrinker is. Of 'n ou vir bier. Vermengings van warm en koue weergawes van koffie met die interessantste komplimenterende smake van speserye en geurmiddels is aan die orde van die dag. Dit is juis om hierdie rede hoekom dié van ons wat Starbucks al leer ken en liefkry het, al baie lank wens hulle maak winkels in Suid-Afrika oop.

Tot dusver was daar nog net gerugte. Een aand het iemand uitasem kom vertel daar is 'n Starbucks wat in Sandton oopgemaak het (wat toe natuurlik nie waar was nie). Of in die middestad van Johannesburg. Starbucks het wel tydens die 2010 Wêreldbeker-toernooi hulle koffies by sekere plaaslike hotelle verkoop, en intussen het Checkers begin om van hulle pakke koffies op hulle winkelrakke te sit. Maar die regte-egte Starbucks, die winkel wat die koffie vir jou maak en bedien in 'n stomende koppie, was nog nooit 'n realiteit vir plaaslike koffiesmullers nie. Tot nou.

Het Starbucks dalk te lank gewag om die plaaslike mark te betree? Met die ekonomie wat voortsukkel en die opkoms van nuwe-generasie tuis-koffiemasjiene wonder mens: het mense nog geld om duur koppies koffie te bekostig, as hulle in elk geval miskien reeds hoë-gehalte koffie van enige kleur en geur by die huis brou op 'n kleurvolle nuwe masjien? Net tyd sal leer. Net tyd sal leer of hulle ook soos in Australië met 'n groot gejuig die mark betree, dan klaarblyklik eers 'n klomp takke moet toemaak en uiteindelik 'n aangepaste spyskaart moet ontwerp om by plaaslike smake te pas. Waar cappuccino na bewering plek moes maak vir die gunsteling vervelig-benaamde "flat white". En wat van meer gevestigde plaaslike handelsmerke soos Seattle en die goeie ou eenvoudige maar allergunsteling koppie Wimpy-koffie? Hopelik kom hulle met genoeg "stars" om almal se oë te laat vonkel, en genoeg "bucks" om 'n grootse poging aan te wend om ons harte oor te wen.

- Stefan van Niekerk
Http:// suigeling.blogspot.com

No comments: