Monday, May 25, 2015

En die grootste Survivor is: Survivor!

Behalwe Noot vir Noot is daar seker nie nog 'n program wat 'n kanniedood is soos die Amerikaanse weergawe van "Survivor" nie. Die program, wat al sedert die begin, in 2000, deur Jeff Probst aangebied word en wat niksvermoedende Amerikaners jaar na jaar in miljoenêrs verander. Bygesê, ek weet nie of ek sal doen wat hulle moet doen om daardie geld te wen nie. As jy vir vyf weke in wind en weer op drie riete moes lê langs iemand wat laas op 'n plaas in North Dakota gebad het (en toe ook net so een maal per maand), sou jy ook 'n miljoen dollar verdien het vir jou moeite. Die program is soos 'n fyn-uitgewerkte, gechoreografeerde boendoe-dans wat waarskynlik etlike miljoene dollar kos om te vervaardig. Met Jeff wat al vir 15 jaar presies dieselfde goed sê soos "Wanna know whatcha playin for?" of "I'll go tally the votes" of "Survivors ready... go!" Al is dit oorbekend, is geen van die reekse kinderspeletjies nie. Maar jy weet ook nie wat is regte pyn en lyding en wat is showbiz nie. Jy weet nie of daar dalk agter 'n piesangblaar 'n wasbak ingebou is waar die Amerikaanse deelnemers twee maal per dag daardie perfekte wit tande van hulle met behulp van Aquafresh borsel, en elke oggend deur 'n spesiaal-aangestelde sun tan lotion sproeier, toegespuit word voor daar met die dag se verfilming begin word nie. Mens weet dit nie. Maar mens kan wel sien dat die gelêery op die riete regtig is en dat mens nie uitgeteerdheid weens 'n dieët van rys en muggies, of slapeloosheid weens die rietslapery onder die elemente, vir die kamera kan wegsteek nie, al blink die tande soos die sterre in die hemel. Ek weet nie by die hoeveelste reeks "Survivor" trek nie, want mens kan dit ook nie google nie, want dan sien jy wie't die reekse gewen (siende dat die SABC drie jaar agter Amerika is met die uitsaai van die program). Al wat ek weet is, al is dit bietjie lank in die tand, en al is ek al mens wat ek ken wat nog SABC kyk - Maandagaand met Survivor bly 'n treat. Want jy weet nooit wie volgende ge"blindside" word nie en wat maak die lewe dan nou interessanter as 'n aand vol kinkels in die kabel?

Tuesday, May 19, 2015

Selfies: Elke kliek, 'n meesterstuk

Om 'n selfportret te skilder sit nie in enigeen se broek nie. As jy byvoorbeeld wil begin en jy vat die verfkwassie by die kwassiekant vas, (dis nou die deel met die haartjies) dan het jy al misluk nog voor jy begin het. Om suksesvol te wees as 'n selfportretskilder moes jy reeds die skilderkuns bemeester het. Jy moes ten minste al 'n uitkenbare hond, kat of bok kon skilder wat nie gelyk het soos 'n koei of 'n wollerige monster wat kinders skrikmaak nie. En jy moet oë kan skilder. Mens kan nog wegkom met 'n skewe ken, of 'n ore wat nie ewe groot is nie, maar oë onderskei die skildermanne van die skildermuise. En dit sal ook nie help as jy kortpad kies en 'n selfportret skilder van jouself met toe-oë nie: dis sommer net gewoonweg kroek. 'n Selfportret vat tyd, maar die resultaat, as jy weet wat jy doen, is baie bevredigend. Deesdae, egter, skilder niemand meer hulleself nie. Al selfportrette wat jy deesdae kry is van 'n gesig en 'n deel van die persoon se arm in dieselfde portret. En dis foto's, nie skilderye nie. Want as jy 'n selfoon het kan jy 'n afbeelding van jouself op jou foon verewig. Maar weet net: dit sal vir ewig 'n selfportret van jou en jou arm wees, tot jy genoeg geld bymekaar geskraap het om uiteindelik die Selfie-stick te koop, of, van nature spog met lang arms. Vincent van Gogh het dertig selfportrette geskilder oor die verloop van vier jaar. Dit was seker 'n langsame proses van die regte kleure meng, en met moeite, die korrekte skakerings op doek aanbring.  Hy sou dalk 'n paar keer van voor af moes begin as hy dalk die ronding van sy ken, of sy haarlyn nie die eerste keer reg kon kry nie. As hy toe 'n selfoon gehad het, kon hy dertig "selfportrette" binne 'n paar sekondes gedoen het. En op elkeen sou sy ore ewe groot gewees het. Behalwe, miskien, die een wat hy afgekap het uit skilder-frustrasie.