Sunday, June 24, 2007

SOLIEDE Kommunikasie....



Bring die BAKSTEEN terug!

Ken jy die gevoel? Jou selfoon kan drie mense gelyk afneem insluitend die buurvrou in die bad, MAAR HY WEIER OM TE BEL OF SMS!

Dis ons moderne dilemma. Selfone het te "slim" geword. Hulle is so dun soos papier, kan 'n hele fliek vir jou wys, kan musiek opneem en terugspeel. Maar jy't hom eintlik net gekoop om te kan BEL en SMS! Hoe slimmer hulle raak, hoe meer pieperig raak hulle en konk in as jy byna net te hard in hulle rigting kyk.
Waar is die ou dae, die dae van die baksteen? 1994: Die Nokia 1510. 'n Selfoon wat 'n skadu oor vandag se kleintjies sou gooi. 'n Skepping waaragter kindertjies kon wegkruip as hulle wegkruipertjie speel. Sulke fone was baie nuttig. Jy kon:
  • een agter jou kar se wiel sit om te keer dat hy agteruit rol.

  • jou huis se venster daarmee uitgooi as jy jou sleutels binne vergeet het.

  • jou kar se venster daarmee uitgooi as jy jou sleutels binne vergeet het.

  • dit op 'n spul papiere sit om te keer dat dit wegwaai.

  • dit gebruik as 'n ekstra sitplek by 'n braai as daar te min stoele was.

  • dit nooit verloor nie want dit was bloot altyd in sig.

  • dit voor die deur sit om te keer dat dit toewaai.

  • een langs jou op die gras neersit en dan in die skadu daarvan tuinmaak.

  • daarmee BEL en SMS, en dis presies waar my probleem inkom!

Die nuwe generasie fone sê eendag vir jou: "Phone start-up failed. Contact retailer". En dan is als verby. Al die fotos wat hy kon neem. Al die liedjies wat hy kon speel. Al die ander goed wat jy nie so nodig gehad het soos om te kon bel en sms nie.

Ek mis die baksteen. Bring hom terug! Die baksteen het nie teruggepraat nie.

NOG NIE SO DAARAAN GEDINK NIE...

(verkeersboetes)

Maak seker jou hare is altyd gekam en, dames, dat julle gegrimeer is. Mens weet nooit wanneer een van hierdie spoedkameras jou afneem nie.

(selfmoordneigings)

Deesdae hoef jy nie meer van 'n brug af te spring of pille te drink as jy jou lewe wil beeindig nie. Koop net vir jou 'n groen FIDILITY GUARD GELDTROKKIE en ry daarmee in die straat af. Jy hoef nie moeilikheid te soek nie, moeilikheid sal jou kry.

(vroue in die nuus)

Wat het Najwa Petersen en Daisy de Melker in gemeen? Albei is vroue en albei hou van "shop"! So sê Dowwe Dolla...

(flieks)

Sandra Bullock, my ou gunsteling aktrise, is in 'n nuwe fliek te sien, "Premonition". Al is die kritici gekant teen die Christelike hoek wat die storie inneem, het ek dit nogal waardeer. Moenie jou ore uitleen of 'n fliek goed is of nie. Gaan kyk dit self. Behalwe "Natural Born Killers". Dis gemors. Glo my maar. Behalwe as jy in 'n slaghuis werk. Dan sal jy dalk tuis voel met al die bloed om jou. 7 uit 10.


IS JY MOEG GESTAAK? Maak soos die onderwysers wat in die goeie ou dae gestaak het, en staak in die vakansie!


Groete,

Suigeling

Kopiereg 2007 S. van Niekerk


























Sunday, June 17, 2007

VADERSDAG!


Brrrrr.... 'n Doopgeleentheid op 'n koue Vadersdagoggend. (Christelike kamp, Mpumalanga)

Kanselleer Vadersdag!!

Pa's het klaar reeds als...
of andersins, kies enigiets met 'n neutrale kleur, soos bruin!

MOONTLIKE GESKENKE VIR VADERSDAG:

Een van daai reuse gemonteerde (plastiek)visse met die oop bek wat lyk of dit tydens sy laaste oomblikke vreeslik geskrik het, vir die kroegmuur (omdat pa nooit self 'n ou grote kon uittrek nie...)

'n grondboontjiebak

'n bruin das

'n biltongbak

'n bruin belt

'n stel skroewedraaiers

'n bruin serp

'n tang

'n bruin trui

(nog) 'n tuinslang

'n bruin stortseep


Ek hoop as ek eendag pa is sal rooi en geel en blou en groen ook sterk kleure wees as Vadersdag aanbreek. En geen geskenke wat rym met "biltong" of "skroewedraaier" nie!

Ek hoop steeds julle Vadersdae was besonders. Om nog jou pa te hê is 'n "blessing" wat mens eers besef jy gehad het as jy hom nie meer het nie. So, geniet julle pa's. Al moet hy en jy tevrede wees met bruin geskenke....

In ANDER nuus...

(BOIKOT)
94.7 hou volgende naweek 'n Afrikaanse rockkonsert. Bid jou dit aan! As jou naam Judas is, gaan gerus. Want eintlik voel 94.7 vere vir Afrikaans. Behalwe as hulle 'n geldjie uit ons kan maak!

(BOEK)
Sonja Herholdt se biografie is uit. Party mense sê sy kla te veel, maar as jou man se minnares (jou man) se (ander) kind ses weke vanaf jou eersteling gebore word, mag jy maar kla! Die boek gee ook 'n kykie na die Afrikaanse musiekbedryf vanaf die 70's. Sonja het met Anton Goosen se liedjies, wat hy spesiaal vir haar geskryf het, ("Trein na Matjiesfontein", "Harlekyn", Waterblommetjies"ens.) deure vir ander sangers oopgemaak. (Geweet dat ds. JAN DE WET ook baie van Sonja se fraai nommers geskryf het, soos "Ek verlang na jou"?)

(FLIEK)
Hou jy van flieks in ander tale, met onderskrifte? Cinema Noveau in Rosebank wys sulkes, en dis nie almal "weird" nie. Net in 'n ander taal, soms. Soos die ware verhaal van Sophie Scholl (in "Sophie Scholl: The Last Days", wat tans wys). Sophie en haar boetie het anti-Hitler pamflette onder studente in die Tweede Wêreldoorlog versprei. Toe word hulle gevang en betaal die gruwelikste, grootste prys. Vandag is sy 'n heldin in Duitsland en die fliek is puik. Selfs as jy nie so baie van daardie oorlog weet nie. En hou van geskiedenis. Soos ek. 8 uit 10.

(FLIEK)
Amazing Grace is 'n periodefliek oor 'n bekende Brit wat die slawe help vrystel het in Brittanje honderde jare terug. O ja, en die priester wat die liedjie "Amazing Grace" (how sweet the sound) gekomponeer het, is ook iewers in die prentjie. Ek weet ek het soms vreemde smaak, maar hierdie fliek was werklik begapingswaardig en stadig en nie eers die liedjie kom sy siel red nie (that saved a wretch like me)... 5 uit 10

(CD)
Lekker nuwe CD! Ek koop nie maklik samestellings nie want Robbie(s) Wessels of Robbie(s) Klay (of Robbies Williams) is altyd iewers en ek haat hulle musiek, maar hier is iets anders... 'n Samestelling van oorspronklike kunstenaars getiteld: "SONDAG- SONGS UIT DIE SEPIES". (SONDAG is mos die nuwe Afrikaanse Sondagkoerant wat ek nie koop nie.) Hier is die snitte, veral die laaste vier is "classics"!

1. Agter Elke Man 2. Droomland 3. Liefde In Die Suburbs 4. Katryn 5. Kinders Van Die Wind 6. Binnelanders 7. Vyfster 8. Ballade Van 'n Enkeling 9. Liggroen Doringbome 10. Twee Sagte Hande 11. Sonkring 12. 7De Laan 13. Ek En Jy En 'n Bottel Tas 14. Arende 15. Breyten Se Brief 16. Gautengeleng 17. Tussen Treine 18. Transkaroo 19. Voshaarnooi 20. Trompie 21. Kraaines 22. Heidi 23. Pinnochio

(grappie)

Jannie blaai deur sy ma se Bybel en kom af op 'n geparste blaar. Hy hardloop na sy ma toe: "Mamma, mamma - ek het Adam se onderbroek in ma se Bybel gekry!"

MOENIE MIS NIE: Die asemrowendste video by www.youtube.com ! Tik in by "search" - BATTLE AT KRUGER, en kyk na die mees skouspelagtige natuurgebeurtenis op ons eie voorstoep. 4 miljoen mense het dit reeds op die internet gekyk. Dis 'n verhaal van die buffeltjie wat gevang is en die stryd om hom te kry - leeus, krokodille en sy buffelfamilie spring almal in, letterlik...

Groetnis,
Suigeling

Kopiereg 2007 S van Niekerk

Sunday, June 10, 2007

DUITSLAND en SUID-AFRIKA: Verskillend, maar so dieselfde...

Niks so koel soos 'n Duitse wintersonnetjie...


Onse THABO en die Duitse Kanselier ANGELA MERKEL het hierdie week koffie en wors gedrink. Hulle kom toe agter, ons lande is baie dieselfde. En ook nie!

In DUITSLAND kan jy so vinnig soos jy wil op die snelweg ry. In Suid-Afrika ook.

In DUITSLAND is die vrou agter die kasregister by die supermark onverstaanbaar. In Suid-Afrika ook.

In DUITSLAND is hulle baie lief vir bradwurst. In Suid-Afrika ook. Vir boerewurst.

In DUITSLAND hardloop hulle in die SOMER uit buitekant toe vir bietjie sonlig. In Suid-Afrika ook. In die winter ook.

In DUITSLAND is hulle lief vir baie bier met min alkohol. In Suid-Afrika ook. Hier is hulle net lief vir baie bier met baie alkohol.

In DUITSLAND praat die kindertjies Duits van omtrent eenjarige ouderdom. In Suid-Afrika nie.

In DUITSLAND is daar kool op elke bord. In Suid-Afrika is daar kool in elke “shack”. Vir hitte.


In DUITSLAND is dit gevaarlik om voor ‘n trein in te hardloop. In Suid-Afrika is dit gevaarlik om melk te gaan koop.

In DUITSLAND is al die vroue mooi en blond. In Suid-Afrika is al die vroue Suid-Afrikaners.

In DUITSLAND praat die president Duits en elke burger verstaan haar. In Suid-Afrika praat die president Engels en niemand verstaan ‘n woord nie...


LAASTE WOORDE

Die vermetelheid! Ek bestel nou die dag pizza by Scooter's. Toe lewer hulle dit met 'n kar af!

Gevaar op die pad! Pasop vir groot borde wat langs die snelweg aangebring is. Dit mag jou aandag aftrek en 'n ongeluk veroorsaak weens die grootte daarvan. Daar staan op geskryf: "High Accident Zone". Met 'n groot rooi kol op...

Woolworths se nuwe borde! Geen honde toegelaat, behalwe gidshonde. (Hoe gaan daardie mense dit weet?)

Wie is Lindsay Lohan nou eintlik? As sy in hondemis trap ons dit hoofnuus in "Beeld". Hoe het dit gebeur dat sy so belangrik vir ons geword het? Wie is sy in elk geval? Ek lees nou die dag haar pa is saam met haar na 'n basketbalwedstryd. Jippee.

Michael W Smith kom in Suid-Afrika sing. As jy, soos ek, al van skool af sy musiek luister, moenie onverhoeds betrap word nie! 20 Oktober by die Coca-Cola Dome. Kaartjies by Computicket.

Groete,
Suigeling

Kopiereg 2007 S van Niekerk

Saturday, June 2, 2007

SPAAR of betaal, die wet van Transvaal!

Met verwysing na een van die punte van hoe om geld te bespaar: luister na ou plate!

Van Woensdag af kos petrol meer in Suid-Afrika as ooit van tevore. Melk is skaars, die rentekoerse gaan waarkynlik in die komende week op, en alles word duurder… Dis alles erg, maar dit hoef nie die einde van die wêreld te wees nie. Bespaar net! Hier is ‘n paar kreatiewe maniere. Maar wees gewaarsku: sommige mag sleg vir jou gesondheid wees!!

Bespaar brandstof. Ry met jou fiets werk toe. As jy ver van jou huis werk…. ry.. vroeg?

“Save water, bath with the neighbour’s daughter.” Dit klink egter vreeslik immoreel. Dit hoef nie spesifiek sy te wees nie. Jy kan enigiemand skonerigs kies.

Moenie meer geld op musiek mors nie. Luister ou plate (foto) wat reeds jare in die kas stof opgaar. Soos “Otterjasie en Doepels” (1976), of “Platepraatjies”(1981). Vir ‘n regte lewe toer, kyk hier na die you-tube video: http://www.youtube.com/watch?v=pFPHMuXdpsg

Laat jou huis se krag afsny, en spaar so. Lewe soos die Vootrekkers gelewe het, by kerslig, maar hou jou skoene aan. Voordeel: skelms sal in die nag na jou erf kyk, niks sien nie en dink dis maar net nog ‘n natuurreservaat. Huil daarom gereeld soos ‘n jakkals by die venster uit of lag soos hiena. As jy nie weet hoe nie, leer by Jacob Zuma op die nuus.

(Vir sterk mae…) Laat die stukkies kos wat jy tydens jou vlosroetine teen die spieël vasskiet... kom ons laat dit daar...

Moet niks koop nie en moet ook niks eet of drink nie.

Gaan eet uit, maar loop nadat hul die gratis broodjie bedien, en jy dit verorber het. Herhaal by volgende, en volgende restaurant tot jou honger weg is.

Leer jou kinders die nare gewoonte van skoene en klere dra af. Bedek net die nodige met stukkies lap van ou gordyne. Soos Maria in “The Sound of Music” gedoen het. Plak koerante voor die vensters waar die gordyne was. Kry ou koerante by die bure of steel hulle s’n vroeg elke oggend van die voorstoep af totdat jy genoeg het vir al die vensters. Handsakke kan ook van ou gordynmateriaal gemaak word. En beddegoed. Mens kan jou selfs met ou gordyne afdroog. Of skottelgoed was. As jy net blinders het, het ‘n probleem. Dit voel skielik baie moeilik om enigsins spaarsamig te lewe…. Dus,

MOENIE SPAAR NIE!
Blaas al jou geld, want wie weet wat môre bring? Dalk die dood!! Maar meer waarskynlik… die armoede….


UIT OP DVD
Grizzly Man -
hierdie was op 'n stdium die top fliek op die "Skaal vir fliekvlooie" in BEELD. Dis 'n dokumentêre prent oor Timothy Treadwell, 'n man wat 13 jaar lank Alaska toe gegaan het en die somer saam met die grizzly bere spandeer het. Sy probleem is dat hy naderhand begin dink het hy is 'n beer. Hy het te goed bevriend geraak met hulle en het te naby aan hulle gekom. In sy 13de somer is hy en sy meisie verskeur en opgevreet deur 'n beer. Alhoewel die fliek geen grusame tonele of iets bevat nie, darem, vertel dit die hartseer verhaal van iemand met 'n passie. En sy passie het sy einde beteken. Beeldskone tonele van AlaskaTimothy se laaste ure in die widernis saam met die bere was en die plant-en dierlewe, en hoe . (8 uit 10)

VARS NUUS
Ou Steve Hofmeyr wou hierdie week Amerika toe vlieg om vir al die uitgewekenes te gaan sing maar soos ons die Amerikaners ken wil hulle nou nie vir hom ‘n gewone visum gee nie omdat hy geld daar gaan maak (alhoewel die inkomste omtrent net sy uitgawes gaan dek, beweer hy). So, as julle vasklou aan die idee van Steve wat vir julle kom sing, dis uit- en moontlik afgestel.

Vrydag het baie blanke onderwysers vir die eerste keer ooit in hulle lewens gestaak! Wat doen ‘n blanke onderwyser by die huis as hulle die dag staak? Hulle stel vraestelle op en merk boeke, wat anders? Of nie?

Maak jou reg vir die vierde reeks “Idols” op M-Net. Al die ou aaklige beoordelaars is daar. Mara ook. Soos gewoonlik kan jou regmaak vir nog ‘n kompetisie op TV (soos die jongste “Strictly Come Dancing” ook is) wat waarskynlik weer erg rassisties sal wees. Soos die vorige drie reeks. Hier is my brief aan BEELD daaroor :

'Idols' ontaard in 'n fiasko en 'n klug

Stefan van Niekerk, Alberton – 9 Sept. 2003

Die 'Idols'-kompetisie op M-Net het in 'n fiasko ontaard.
Wat veronderstel was om 'n talentkompetisie te wees waar die gewildste deelnemer wen, het verander in 'n wedstryd met só 'n sterk politieke geur dat 'n mens wonder of die regering nie ingemeng het om te verseker die kleurkaarte word reg gespeel nie . . .
Daar was die storm rondom Franciska Blasich wat onder 'n wolk uit die kompetisie uit is met vrae oor haar velkleur.
En die skielike verandering van reëls waarvolgens die kompetisie se beoordeleaars ook skielik seggenskap het nadat die meeste finaliste wat deur die publiek ingestem is, dalk te wit na hul smaak was.
En die laaste strooi: Petro wat nie 'n Afrikaanse liedjie vir die uitdunne kon sing nie omdat die kompetisie kwansuis Engels is, waarna 'n ander deelnemer dieselfde aand in Zoeloe losgetrek het?! Dubbele standaarde, politieke inmenging - wat 'n klug. Dis tog jammer.

Groete,
Suigeling


Kopiereg 2007 S van Niekerk