Sunday, July 15, 2007

Die Werklike Wilde Weste (WWW)...


Ter wille van oorlewing


Die A tot Z(uma) van OORLEEF in SUID-AFRIKA
Wat het ek nodig?


'n ANC-lidmaatskapkaart: as hulle meel uitdeel, kan jy heelvoor in die ry staan...

"Barb wire": Om enige ongewenste karakter uit jou erf te hou, insluitend skoonfamilie.

Coca-Cola: As jy TV kyk sal jy sien dat om 'n Coke te drink, jou eensklaps in 'n welwillendheidsambassadeur verander. (Hulle moet tronkvoëls Coke voer!)

Duitse buurman: Jong, hulle kan lekker vark maak!

E-bucks: Monopolygeld waarmee jy iets kan koop.

Fluffie: Fluffie blaf, diewe skrik.

Geelbladsye: "When your drain is being naughty"

Huisgenoot: Waar in die lewe sal jy wees as jy nie elke week van 'n reeksmoordenaar kan lees wat sy slagoffers in sement begrawe nie?

Inry-teater (by Menlyn). (V)ry veilig!

Jik: Klaarpraat met enige vlek, moet net nie jou vel ook bleik nie, dan sal jy nooit daardie werk kry nie!

Koo: Al hou jy nie van perskes nie, kan die blik steeds 'n barshou gooi (of 'n kopskoot).

Life Savers: Die enigste gat wat jou lewe kan red.

Minora Blades: Sluk 2 soggens op 'n nugter maag en vergeet van jou probleme.

Nelson Mandela se foto bo jou bed: ALMAL het een. Of nie?

Oros: 'n Partytjie kan net nie lekker sonder hom op dreef kom nie...

Pronutro: Waarskynlik die wêreld se heilsaamste onbytgraankos.

Quickstop Quickshop: Melk en brood! Teen die prys van 'n arm, been, nek, skouer en linkerpinkie...

Red Bull: Want dit gee jou wiiiings...

Skoenpolitoer: Wend dik laag aan voor die onderhoud.

Tamatiesous: As jy 'n kaping wil "fake", hou "fop-bloed" byderhand.

Ui: As jy 'n kaping wil "fake", hou "fop-trane" byderhand.

Vals paspoort: Maklik bekombaar. Verskeie aanwendings.

Woolworths: Niks is so ferm soos Woolies se tamaties nie.

Xhosa-woordeboek: Vir die werksonderhoud waarvoor jy reeds die politoer aanhet.

Ys: As teenvoeter vir die "Warm Coke Sindroom".

Zuma-plakaat: Hou solank een gereed...


Groete,
Suigeling


Kopiereg 2007 S van Niekerk

Sunday, July 8, 2007

Wat die mond van vol is...

Wyn sonder die skop? "Gluhwein"-sap! Spesery-sap, nou op die rak.

Die Geboorte van die Voorhangsel

Die Voorhangsel (ook genoem die "Maag", "Pens" of "Boep", tussen vriende), die gordyn waaragter alles wegkruip, gebeur nie sommer vanself nie. Hy word gekweek, gevoed, natgelei.

Moeg vir jou boep? Jy IS wat jy VREET!

Daar is tien basiese reëls wat ons Afrikaners breek en dit veroorsaak ons voorhangsels. Hou by die reëls en sien uit na die dag wanneer jy weer jou voete kan sien, sonder om in die spieël te kyk!


Reël 1: DRINK BAIE WATER
(brandewyn met water tel nie. Ook nie "YS" in whisky nie)


Reël 2: EET 'n VERSKEIDENHEID KOSSE
(Tjops en steak en sosasties en wors is nie wat hulle bedoel nie)


Reël 3: EET MEER WIT VLEIS
(die "wit" stukkies in die biltong is nie witvleis nie...)


Reël 4: EET MEER GROENTE
(hoender is nie groente nie, al dink party boere so)


Reël 5: EET MEER VRUGTE
(die "raisins" in "rum 'n raisin" roomys is nie van toepassing nie)


ReëL 6: WERK ROOIBOSTEE IN JOU DIEET IN
('n Big Mac burger saam met jou tee kanselleer die tee uit)


ReëL 7: WERK GROENTESAP IN JOU DIEET IN
(Bier is nie groetesap nie. Want "hops" is nie groente nie. Jy het so gedink, né?)


Reël 8: WERK GROENIGHEID IN JOU DIEET IN
("Mint Crisp" sjokolade tel nie)


Reël 9: EET EERDER MARGARIEN AS BOTTER
(Margarien saam met stroop en roomys op jou wafels tel nie)


Reël 10: AS NIKS WERK NIE, DRINK MAAGMEDISYNE
Nie Coke nie. Dit was dalk in 1888 gesien as medisyne, maar is deesdae 'n verbanne middel in enige Weigh-Less lid se spens. (Het Weigh-Less lede spense???)

(grappie)
Wat noem mens 'n boer met 'n deurtrekker?
John Deur-trekker

(boek)
"Die Binnekring" - Terugblikke op die laaste dae van blanke regering, deur Jan Heunis (seun van destydse minister Chris Heunis). Ek het gewonder hoe dit was in daardie dae. Ons kan almal bietjie uitvind hoe dit in die dae van apartheid was waarvoor ons nou nog beskuldig word maar wat ons nie kan onthou nie want ons was nie toe gebore nie. 'n Dun boekie uit die binnekring van die ou NP-manne. Ek trek nou by Pik. Strawwe drinker. Gewild onder die dames...

(fliek)
'n Kunsfliek het altyd een of meer van die volgende tonele in:

1. Iemand wat in 'n koringland viool speel.
2. Iemand wat wasgoed ophang.
3. Iemand wat iemand anders in 'n vreemde taal leer fiets ry.
4. Iemand wat skielik al hul klere afpluk om in 'n meer te swem.
5. Iemand wat erg gestremd is en toe eintlik 'n bobaas-sanger is.
6. Iemand in die gehoor wat snak na hul asem want die einde van die fliek kom so onverwags. Eintlik is daar nie 'n einde nie.

"As it is in heaven" het al hierdie goed in. Dis Sweeds met onderskrifte. Cinema Noveau. 8 uit 10.

(fobie)
Pasop as jy op teerpaaie in Suid-Afrika ry. Hulle vang jou ORAL vir spoed. Weens my fobie hieroor, en vrees vir die "speedies", het ek my al doodgeskrik vir die wit pote van 'n kamera langs die pad wat toe net 'n vrou se bene was. Sy't 'n gebleikte denim aangehad. Of die wit bakkie met gekleurde ligte op die dak wat my agtervolg. Dis toe net gekleurde lere op 'n verfmaatskappy se trokkie. RY ASB STADIG! JY'S IN GEVAAR, AL RY JY 1KM/H TE VINNIG!


Groete,
Suigeling

Kopiereg 2007 S van Niekerk


Sunday, July 1, 2007

Souskluitjies en ossewaens!


SNEEU IN JOHANNESBURG! 27 Junie 2007. Vir die eerste keer in 26 jaar! Foto: S van Niekerk, soos verskyn het op www.news24.co.za


WEES POLITIES onkorrek BY DIE WERK!


'n SMS hierdie week lui: "Volgens die Nasionale Kwotakomitee wil ek jou herinner dat, teen 2008, 80% van jou vriende swart moet wees. Ek stuur vir jou polish, ek wil jou nie verloor nie!"


Maar hoekom sal ons nou terugdeins? Staan op jou regte! Vier jou kultuur op kantoor, sonder om rassisties te wees en kyk hoe lank jy kan oorleef. Hier is 'n paar voorstelle:


  • Dra elke dag 'n wit hemp werk toe. As iemand vir jou daaroor uitvra na drie maande, sê eenvoudig: "WHITE is beautiful". Slaan dan oor na khaki.

  • Bring 'n foto van genl. Koos de la Rey of sy vrou Nonnie teen jou kantoormuur aan. As iemand vra, sê dis oorlede verlangse familie. En lyk hartseer.

  • Laat die mat in jou kantoor uithaal. Vervang met 'n perskepit-misvloer.

  • Sit 'n miniatuur ossewaentjie in die sand van die "Zen Garden" op jou lessenaar. Met klein ossies en touleiertjies by. En klein Voortrekkertjies met klein kappies en klein geweertjies. En 'n klein Statebybeltjie langs die klein stukkies biltong in die klein wakissie.

  • Sit "Die Lied van Jong Suid-Afrika" as luitoon op jou selfoon, of neurie dit kliphard in die gange of by die koffiemasjien. As iemand vra, sing die hele een. As hulle nog soek, sing dit in tenoor-stem.

  • Bevorder jou kultuur - rol vers vier van "Die Stem" af en sit op almal se lessenaars. Doen spontane "spot checks" om te sien of almal dit ken.

  • As iemand jou groet, gee 'n saluut as antwoord. Staan ook op aandag en slaan jou hakskene teen mekaar.

  • Plak 'n gelamineerde plakaat op jou muur met die woorde: Die Baas het klaar gepraat...

  • Vat 'n groot bak souskluitjies werk toe en loop in die gange daarmee rond. As jou kollegas se monde begin water, sê bloot dis 'n tradisionele Afrikaanse dis en jy kan dit nie deel nie want jy wil nie polities-onkorrek by die werk wees nie...

(sport)

Van wanneer af borg SAB rugbyspanne? Ek hoor die "es-aa-bee"-span speel in die Drienasies toernooi in Australië..


(fliek)

En toe land "Shrek 3" in ons fliekteaters, met sy groot groen pote! Daar is baie snaakse elemente, soos die gemmerbroodmannetjie wat 'n pienk jellytot "laat" toe hy skrik of die koning wat in 'n padda verander en op sy sterfbed nog vliegies met sy tong vang. 6 uit 10 (onder dwang, ek wou "4" gee - moenie te veel verwag nie)


(nuwe musiek)

Ek luister nie meer na musiek radiostasies in Suid-Afrika nie want die hedendaagse internasionale popmusiek is vir my wysieloos en Paris Hilton-rig en R&B-rig. Mens kan egter altyd in die rigting van die Duitsers kyk vir heerlike saamsing popliedjies, al hoor mens die goed nooit op ons radios nie. Gaan kyk dus na die video van die nuwe somertreffer in Duitsland, deur Mark Medlock (nuwe Duitse "IDOLS" wenner) en Dieter Bohlen (van "Modern Talking"-faam) getiteld "You can get it if you really want". Gaan na hierdie adres en dans saam (lekkerrrrrrr) 10 uit 10: http://www.youtube.com/watch?v=gGLduuHYyI0


Tot volgende week!
Groete,

Suigeling


Kopiereg 2007 S van Niekerk