Monday, October 22, 2007

Eet liefs bees...

Ai, hoe lus is die honnes nou vir 'n stuk springbokpastei... SLUK JULLE LUS!!!

Springbokpastei is nie meer op die menu nie

Jy kan nie deesdae meer springbokpastei by die restaurante bestel nie. Dis soos om jou broer te wil eet. Die Wêreldbekerrugby het snaakse goed aan ons samelewing gedoen. Van die swart man wat Saterdagogend in Alberton taxi toe stap met sy Springbokhoedjie op, tot die toetende karre waarvan die insittendes vir mekaar waai en sommer vir die werkers wat aan die pad werk, wat omtrent harder terugwaai as die insittendes. Hier is 'n paar snaakse Wêreldbekergoedjies:

  • Wat noem mens 'n Engelsman wat die Wêreldbeker vashou? Die graveerder!
  • Uit BEELD: Psalm 151:16: " Op daardie dag sal jou vyand soos rose verdor en deur wildsbokke vertrap word. Dan sal jy uit 'n goue beker drink en jou verlustig in hulle smart". Dit terwyl Psalms net 150 hoofstukke het en mens wonder wat met die ou gaan gebeur wat durf 'n hoofstukkie vir die Bybel bygeskryf het...
  • Vir die eerste keer in ons geskiedenis het die radio gerapporteer dat rugby-oproeriges in Sunnyside uiteengejaag moes word...
  • Vanaf 702: Jake White was in 1981, 17 jaar oud in Jeppe Boys High en het in 'n opstel geskryf dat hy graag eendag vir die Springbokke wil speel of hulle selfs dalk nog afrig.
  • Saterdagoggend was 'n snaakse gesig om 'n wit man en swart vrou saam met mekaar in 'n bakkie in Kempton Park te sien ry. Nie snaaks opsig self nie, maar die feit dat albei Springboktruie aangehad het, was snaaks.
Op 'n meer ernstige noot, wat ongewoon vir hierdie blog is, skryf Clinton van der Berg Sondag in die Sunday Times onder die opskrif " Why we won't win the World Cup for another 25 years" dat die Springbokke maar die glorie moet geniet, want dit sal nie gou weer gebeur nie. Hoekom nie?
  • Politieke inmenging -rugby is 'n gerieflike teiken vir politieke inmenging.
  • Goeie spelers soos Os du Randt is nou oor die muur en 'n handvol Bokke gaan nou oorsee speel, insluitend John Smit en Victor Matfield.
  • Jake White sal sy tassies pak en waai want hy het nie ondersteuning van die bestuur van rugby nie en kan nou enige land onder die son gaan afrig.
  • Die rugby "powers that be" sal nou 'n afrigter kies wat meer gekleurde spelers in die span sal insluit, ter wille van kleur in plaas van dat prestasie en talent eerste plek moet hê.
JAMMER, JULLE!!

Los grappies

'n Man kom by die apteek en vra vir die apteekassistent vir 'n pakkie kondome. "Sorry", sê sy, "I'm from Britain - what is it you want, I can't understand you". Die man skraap weer al sy moed bymekaar en sê in sy beste Ingels: "I am looking for a can doom". "Oh!", sê sy, "is that for flying or crawling insects?" "Ag," antwoord hy, "it's fine, for any sex, please. Thank you".

Straatname verander deesadae so gereeld, hier is 'n idee om die konstant verandering die hoof te bied: MOENIE MEER STRAATNAAMBORDE MAAK NIE, skryf net die nuwe name op swartborde langs die pad en vee dit bloot uit met 'n borsel as jy dit wil verander....

Tot volgende keer,
Groete
Suigeling
Kopiereg S van Niekerk 2007



Saturday, October 13, 2007

Die vrou met die hoë stem!

Wie onthou vir Kimera? Lees meer by "Kan jy onthou?"

Van sit en staan is KRUIP die lekkerste!

Daar is planne op pad om die spoedgrens op plaaslike paaie van aanstaande jaar af van 60km/h na 40km/h te verminder, berig BEELD hierdie week. “60km/h is ‘n te vinnige spoed om verby iemand se huis te ry”, beweer hulle. Wat hulle nie besef nie, is dat dit onnodig sal wees om amptelik die spoedgrens te verminder. Aangesien daar deesdae onder elke boom, agter elke kennisgewingbord, op elke paal en langs elke verkeerslig ‘n spoedkamera aangebring is om plaaslike munisipaliteite se jaarlikse kerspartytjies en bonusse te finansier, jaag niemand meer nie. “Jaag” is iets wat in flieks soos “The Fast and the Furious” gebeur,en wat ons glad nie meer is nie: vinnig of vies. Ons het aangepas by ons omstandighede en kom boetevry deur die lewe en by ons bestemmings aan, al vat dit nou bietjie langer as ooit vantevore.

Moet jy (“gou” bestaan nie meer nie, moet dit nie eers oorweeg nie) melk gaan koop by die garage-winkel op die hoek? Of dalk moet jy een van jou kinders by die “mall” gaan oplaai? Maak jou reis meer gerieflik deur van die volgende wenke gebruik te maak:

1. Pak ‘n piekniekmandjie: Kaas en weense worsies is gevul met hope proteiene wat jou vir die hele reis versadig sal hou. Jy hoef nie meer tydens lang reise honger te ly of honger te bly nie. Appels is ook lekker padkos, al eet niemand dit ooit nie, want die geroosterde toebroodjies met die vetterige kaas op in die foelie toegedraai is altyd baie meer aanloklik as die appels, wat jy in elk geval net vir jou gewete ingepak het.

2. Vat genoeg musiek saam vir die pad: mens weet nooit wanneer jou reis verder deur padblokkades of taxi-ongelukke verleng kan word nie, so, hou altyd genoeg musiek van 'n wye verskeidenheid byderhand om elke moontlike gemoedstoestand waardeur jy mag gaan op jou reis, te kan hanteer.

3. Onthou die koelerboks! Hou hom maar altyd in die kattebak. Alhoewel jy dalk net gery het om melk te gaan koop, weet jy deesdae nie meer hoe lank jou reis gaan duur nie. Lewe eerder met die groot boks in jou "boot" saam as om met melk wat so suur geword het, dis byna soos dik karringmelk, hoef saam te leef.

4. Sonblok op die regterarm: jou regterarm brand altyd meer as jy bestuur omdat dit gewoonlik meer aan die son, deur jou bestuurdersvenster, blootgestel word. Rome met faktorbeskerming van 30 of meer word aanbeveel vir enige rit in jou voertuig bedags. Behalwe as jou hemp moue het.

5. Koeldrank vir die kinders: as jy jou kinders iewers gaan oplaai het moet jy altyd seker maak dat daar genoeg vloeistof in die voertuig is vir kinders om te drink. Kinders dehidreer maklik tydens lang ritte. Pasop vir koeldrank wat te soet is. Dit mag die kinders hiperaktief maak en mag die rit in 'n helse nagmerrie laat ontaard.

6. Warm klere: wanneer jy in die nag ry, en dit is boonop winter, maak seker om vir alle insittendes ekstra warm klere in te pak. Die lang rit mag veroorsaak dat kinders koud begin kry. Of as die motor moontlik op pad onklaar raak, mag jy moontlik gedwing word om terug huis toe te stap. Wat jou sal laat wonder hoekom jy nie in die eerste plek maar GESTAP het om melk te gaan koop nie, want enigiets sal korter wees as om deesdae die paaie met 'n voertuig te probeer aandurf!

(KAN JY ONTHOU?)

Haaa-ha-ha-ha-ha-ha-ha-ha-ha-haaa. Nee, dis nie ‘n gelag nie. Dis iemand wag hoog sing. “Kimera” om presies te wees. In die middel 1980’s toe daar basies niks op die musikale front in Suid-Afrika aangegaan het wat popmusiek betref het nie, het hierdie skoonheid op ‘n S.A.L. vlug van Korea af hier aangekom en ALMAL het van haar geweet. Daar is beweer dat niemand in die wêreld hoër note as Kimera kon bykom nie. Sal ons ooit die nagtegaal met die geverfde gesig vergeet?


(DIE ARME ALL-BLACKS)

Daar was oorweeg om 'n nuwe reeks posseëls in Nieu-Seeland uit te bring. Kompleet met al die All-Blacks se gesigte op. Dit gaan egter nie meer gebeur nie. Owerhede is bang dat die publiek verward sal wees. Hulle is bang die mense spoeg meer voor op die seël, as agter op.

Tot volgende keer,
Groete,
Suigeling

Kopiereg 2007 S van Niekerk



Saturday, October 6, 2007

Kyk is (soos) vry!

Naby Nieuwoudtville dra miere blomme rond. Hoekom? Eet hul dit dalk in April of as dit reën? Of verfraai hul net die nes?

Daar is niks op die kassie nie...

Deesdae is daar niks op TV nie. As jy die TV aansit en “Days of our Wives” is op, weet jy jy het te veel tyd op hande. Gaan terug werk toe. Of as jy nie anders kan nie, is dit nog steeds Sammy en Lucas wat besluit of hulle gaan trou, soos tien jaar terug. Die verskil is net, hulle het nou al drie kinders. Of so iets.

Probeer “Dikgang”, wat niks met gewig of gange uit te waai het nie en al wat jy heeltyd probeer raakhoor is “Dumêla”, “Ageeeee”, “Metzi”, “Maswi” of “Boroto” en “Botoro”, want dit is al wat jy van Sotho op skool kan onthou. Maar na ure en dae se kyk, hoor jy daardie woorde nie en sien heeltyd net Thabo op die skerm wat glimlag en bladskud met Bush of Brown of Anan of ‘n non.

Jy kan rondspring en eindig op Patricia Lewis se aftreeannuiteit genaamd “Supersterre”, waar 10 kinders met baie ‘highlights’ (in hulle hare) en ander uit minderbevoorregte gemeenskappe kyk wie dink Niekie van den Berg kan die mooiste sing. Hoe kies mens iemand as mens niemand wil kies nie? Ek dink Shakespeare het dit gesê, eendag.

“Agter Elke Man” op Saterdaemiddae is my gunsteling – dis die eerste reeks, dis 1985 en almal was nog mooi jonk. Dis die laaste keer wat Nora van Egoli die rol van ‘n ryk vrou gespeel het, as Marietjie Barnhoorn. Sy dra sedertdien net ou truie en geleerde sykouse, vir dekades elke aand op TV al.

Dis hoekom ek besluit het - kry die skottel! Saam met die dekodeerder. Vodacom het die wonderlikste 16-kanaal opsie, insluitend Kyknet vir net R 139 ‘n maand en jy kan enige tyd ophou. So gesê, so gedaan. Die programme is deesdae min of meer dieselfde en mens raak gou uitgekyk, maar dis so wonderlik om skottel-TV te hê, mens kyk sommer vir ure. Daar is nie meer sneeu op die skerm nie, net iets wat lyk soos ‘n blokkie wat baie rondbeweeg. Maar dis so mooi! My Engels het ook baie verbeter sedert ek die skottel gekry het. Ek weet al presies wat dit beteken en kan dit selfs opsê sonder om op die skerm te kyk: “E16 You are not enabled to view this channel or your account has been suspended. Please contact the Call Centre for assistance.” Ek sien baie uit na die dag wanneer hulle hom aansit.

(boek)

“McDonald’s - Behind the Arches” deur John F. Love, vertel die storie agter die McDonald’s Corporation. Van kindsbeen tot kunsbeen. Ray Kroc het ou Oos-Europese bloed gehad en hy het in die middel 50’s die konsep by die McDonald-broers, wat nie narre was nie, gekoop. Vandag is hy dood. Hy is darem ryk dood. Sy beste raad aan sy werknemers was: “Moenie enkel pakkies sigarette koop nie. Koop kartonne vol. Dis goedkoper.” Korrek. Hy is nie dood van hamburgers nie.

(fliek)

Is dit te laat om “Bourne Ultimatum” te gaan sien? Jammer as jy te laat is want dit gaan nie dieselfde op DVD wees nie. Die beste fliek wat ek die afgelope tyd gesien het. James Bond kan maar met sy Aston Martin die see in ry, Jason Bourne is almal se nuwe gunsteling spioenerige ou.

(melk)

Drink jy melk? Of gooi jy melk in iets? Of oor iets? As ek nie bier het nie, gooi ek altyd melk oor my Wheet-Bix. (Grappie) Nou kry mens melk met ‘n skoot vanieljegeursel by. Dis baie lekker. Die melkboere gaan dood van die honger maar ons drink melk met vanilla in. Soos Marie Antoinette vir die armes gesê het: Hoekom eet julle brood? Eet koek! Of so iets.

(kinderprogramme)

Pinocchio en Heidi wys nou weer op Kyknet, en jy kan die hele 52-episode reeks van Pinocchio nou op DVD koop vir slegs R 450. Maar ek weet nie of kindertjies meer vir daardie tipe animasie gaan val nie. Om ‘n voorbeeld te noem. Heidi eet ‘n broodjie. Maar dit kan net sowel ‘n groot klip gewees het. Dis so ‘n ronde sandkleurige ding wat sy in haar mondjie druk met die lippies wat nie eers woorde kan vorm nie, dit gaan net oop en toe as sy praat. Laat kinders liefs in die tuin met hul eie, regte 3-D honde speel.

(politiek)

Gehoor onse President het onlangs ‘n hele kursus by die Black Cat grondboontjiebotterfabriek voltooi. Hulle wys jou hoe grondbone behandel word, fyngemaak word en gaargemaak word en dan met drie eenvoudige bestanddele, suiker, groente-olies en sout gemeng word om ‘n smeerbare produk tot gevolg te hê. Die grootste les wat hy egter daar geleer het in die daglange opleidingsessie was om byna enigiets onder die son wat toegesmeer kan word, toe te kan smeer.

Tot volgende keer,
Groete
Suigeling

Kopiereg S van Niekerk 2007

Monday, October 1, 2007

Oktobermaand is weer SUIWELMAAND van die môre tot die aand


Dit was skilderymooi, net buite Springbok, toe die blomme verlede maand die velde langs die paaie, en die berge van Namakwalnd versier het. EIE FOTO

Daar was destyds so ‘n advertensie op TV met die huppelende boodskap en koeie wat "moe". Al te vrolik. Maar melk is nou so duur, ons bly maar by OKTOBERMAAND – die mooiste, mooiste maand. Wanneer dit hopelik vir die eerste keer in ‘n jaar in Johannesburg meer as twee keer sal reën. Of OKTOBERMAAND – die langste, langste maand. As jy ‘n salaristrekker is. Oktober het 23 werksdae vs. September se 19. Ja, jy het reg gelees. Ons gaan amper ‘n week langer werk vir dieselfde geld….

Maar vergeet van Oktober, “Uit die Mond van die Suigeling” is terug na ‘n tyd van stilte waarin laatnag huilende stemme oor die telefoon gesmeek het vir nog, maar waarin ek helaas niks opbouends of lewensveranderends kon uitdink nie. NIKS HET VERANDER NIE! Maar hier volg dan ‘n paar minder opbouenede en lewensveranderende lewens(on)waarhede.

KERK “PICK-UP LINES” WAT NIE WERK NIE!

Die mees beeldskone girl het langs jou in die kerk kom sit. Na die diens wil jy iets vir haar sê, maar weet nie wat nie. Bly eerder stil as om te sê:

Jy lyk so mooi as jy slaap.

(Jy sien sy gooi net twee rand in die bordjie). Wil jy geld leen?

Is dit ‘n spesiale kleur naelpolitoer wat jy dra, of werk jy met karre?

Jy’s darem glad nie so vet soos die vrou wat die kollekte opneem nie.

Ek sien jy eet brood?

Wie’s jou gunsteling dissipel?

Ek het jou nog nooit hier gesien nie. Is jy ook ‘n Christen?

Ek sien jy het nie ‘n Bybel nie. Kan jy lees?

Maak jy ook nooit jou oë toe as jy bid nie?


DIE KUIER BY OOM EUGENE

Om by oom Eugène (Ney) Terre'Blanche te gaan kuier, verg mannemoed. As jy hoor hy “wil jou sien” skrik jy. Moes ek nie maar vanoggend khaki aangetrek het nie? Wat gee ek vir hom as geskenk? Net nie koek nie! Sal hy beskuit eet? Netnou gee ek vir hom iets wat hom aan tronkkos herinner!

Die oggend in Julie is ek en my baas op pad na sy huis toe. Ek probeer al lank om hom te ontmoet en toe die ontmoeting uiteindelik met die hulp van die ontvangsdames van die enigste dokterspraktyk op Ventersdorp gereël is, weet ek skielik nie meer of ek wil gaan nie. Wat gaan hy van my dink? Ek was jare laas op ‘n perd! Sal hy dit kan sien? Sal hy aan my pap armpies kan sien dat ek lanklaas ‘n geweer vasgehou het? Moes ek nie maar ‘n baard vir vandag gegroei het nie? Daar was nie tyd nie. Geen tyd vir wonder of beplan nie. Dit was ‘n skielike kuier en ons is toe maar soontoe... met beskuit.

Ons klop eers by die verkeerde deur aan. Sy woonhuis. Nee, beduie sy vrou, hy is langsaan by die AWB-huis. Die kantore van die AWB. Hou "die AWB-wag" daar wag, wonder ek? Ons loop toe om na die huis langsaan. Mens se bene is darem nie soos jellie nie want dit is darem nie soos ‘n “blind date” nie, maar amper. Daar staan ‘n ossewa-replika op die stoep voor die huis. Of was dit ‘n regte ossewa? Is daar nog impi-bloedspatsels op die wielspeke? Die huis staan wawyd ("no pun intended") oop. Ons stap in en verwag khaki en snorre en volkspele musiek en geraamde fotos van stuggesigte. Die dame wat ons ontvang het nie ‘n lang, kuis rok aan nie. Sy spring van haar rekenaar op en beduie ons by die Leier se kantoor in. Ons stap versigtig deur.

Die Leier is op sy selfoon. Wat met ‘n blou toutjie om sy nek vas is. Hy beduie ons om te sit. Ons gaan sit by ‘n groot houttafel. Is veldslae hier beplan, wonder mens onwillekeurig. Hy sluit sy gesprek af en vra ons vraend: “En as julle twee nou soos stout skoolseuntjies daar sit? Kom sit hier!” Ons het op die verkeerde stoele gaan sit en spring gou-gou op om op die regte plek te kom. Hy gee ons elk ‘n stewige handdruk. My baas is Engels verby en het my vooraf gewaarsku om baie te praat sodat hy niks in sy krom Afrikaans hoef kwyt te raak nie. Omdat ek weet hoe sy Afrikaans klink, vermoed ek ons mag 'n menseslagting op hande hê as hy iets in die Taal uiter, toe moes ek net keer. Ek vertel maar van ons werk en vra toe maar, om die bal aan die rol te kry, “Wat is ons kans as Afrikaners in Afrika?” Dit was net die regte vraag. Hy trek toe los en praat oor selfbeskikking en die feit dat die boere in die vorige eeue nooit grond by die swart stame afgevat of gesteel het nie. Grond is regmatig by konings en heersers en grondeienaars gekoop en daar is die nodige dokumentasie onderteken. Selfs Piet Retief, wat met sy lewe moes boet, het ‘n waterdigete koopkontrak met Dingaan gesluit waarvan die oorspronklike dokument steeds bestaan waar dit in sy leersak naby sy lyk opgespoor is. Ons moet ons self beskik, is sy boodskap, en ons by die Verenigde Nasies daarop gaan beroep om te keer dat ander volke oor ons volk regeer.

Eugene Terreblanche is ‘n kort figuur. Natuurlik met die imposante stem en die uitgetrapte stewels, soos mens sou verwag. Maar wat mens nie verwag het nie, was die selfoon om die nek, die oop deur en die maklike toegang; die hartlikheid in hom, selfs teenoor die Engelsman.

Mens mag dalk van baie dinge van hom verskil, maar toe hy ons omtrent "hug" toe ons vertrek, besef mens: hy is ook maar net 'n mens en is lief vir mense. Vir sekere mense dalk net meer as ander...

Tot volgende keer,
Die Suigeling
Kopiereg S van Niekerk 2007