'n Mens kan nog vol brawade wees oor baie dinge in die lewe en maak of jy in beheer van alles is. Tot iets jou tref wat so onvoorspelbaar is dat jy wil verstik aan jou oggendkoffie en in die geheim wil begin huil soos 'n babatjie, bloot uit pure magteloosheid: tandpyn. Die vet weet hoekom mens nie as kind gedoen het wat jy veronderstel was om te doen nie, en dit is om minder lekkers te eet en meer na jou tande om te sien. Maar ons wou nie luister nie. Ek moet tog byvoeg: hierdie ding tref nie almal nie. Sekere mense is geseën met 'n fantastiese konstitusie wat goeie tande insluit. Veral as jy nog van die Kaap af kom en dalk grootgeword het naby 'n goeie dam (soos my oupa Wally van Porterville), daar waar die water jou vriend was, en nie soos ander mense, wie se gebit reeds van kindsbeen af deur water uit 'n Brak Pan opgevreet is nie. Tandpyn kom soos 'n dief in die nag: een dag is jy nog jouself en dan, skielik, is jy iemand anders. Iemand met 'n diepgewortelde krisis wat nie vanself wil oorwaai nie, maak nie saak hoeveel pynpille of pakkies pynpoeiers jy gebruik om dit te probeer doodgooi nie. Op 'n stadium moet jy maar jou trots saam met die laaste pil in die pakkie sluk en die man in die wit jas besoek: die een wie se neus of mond jy nog nooit gesien het nie en wat jou eers seerder gaan maak voor jy beter gaan begin voel. Tandpyn kan voorkom word, dit weet ons. Maar ons weet ook ons moenie witbrood eet of grassny as dit reën nie, maar ons doen dit in elk geval. Ons hou maar aan om sjokolade voor die TV te eet en gaskoeldrank te drink, al weet ons die uiteinde is iets wat jy nie jou grootste vyand sal toewens nie. Of, miskien dalk net vir hom, maar niemand anders nie.
Kopiereg S van Niekerk 2015
Tuesday, February 24, 2015
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment