Sunday, September 6, 2015
Gaan spring in die see, man
Elke keer as ek die foon aflui nadat ek met iemand gepraat het wat in die Kaap bly moet ek eers die naar smaak in my mond met 'n koppie koffie probeer verdryf. Want die Kapenaars is lief daarvoor om, die feit dat hulle die see en die berge en die tuinroete het, in mens se neus op te vryf. Ons as Gautengers het dalk nie daardie goed nie, maar ons het aan hierdie kant van die wêreld iets wat ook, op 'n ander manier, wonderlik is: warmwaterbronne. Om een of ander rede is daar net iets betowerends daaraan om, ongeag die weer (behalwe hael), laataand in 'n verhitte swembad te lê terwyl die stoom daaruit trek soos 'n kokende ketel. Dit maak op vir die raserige karavaanpark waar jy in 'n tent moet slaap omdat jy 'n week voor die tyd plek by die oord probeer kry het en hierdie staanplekke al was wat beskikbaar was. Met die Desembervakansie vir baie mense om die draai is hierdie tipe vakansie-oorde 'n goeie opsie as jy dalk weens die ekonomie nie 'n week of twee in 'n woonstel met 'n see-uitsig kan bekostig nie. Veral as jy een van daardie mense is wat 'n Jurgens in die tuin onder 'n afdak staan gemaak het, en gewoond is daaraan as iemand Bobby van Jaarsveld in die middel van die nag langs jou kampbed speel (omdat 'n karavaan se tent nie mure het nie, net flappe) en nie omgee om storte en kombuiswasbakke met ander mense te deel nie. Vakansies soos hierdie is legendaries vir kinders en selfs ouers vind vinnig uit dat niemand nog regtig ooit dood is van 'n oordosis draairoomys of putt-putt nie. As jy net kan onthou dat nie jy of jou kinders mag hardloop om die swembad nie, dat jy nie mag eet in die swembad of op iemand mag spring wat in die swembad is nie, dan is so 'n vakansie dalk iets wat jy vir baie lank nog sal onthou. En dan maak dit nie saak as jy nie berge het om op die horison na te staar, of die see nie. Jy gaan so trampolien spring, jy sal skoon vergeet van die Kaap.
Subscribe to:
Posts (Atom)