Sunday, September 6, 2015

Gaan spring in die see, man

Elke keer as ek die foon aflui nadat ek met iemand gepraat het wat in die Kaap bly moet ek eers die naar smaak in my mond met 'n koppie koffie probeer verdryf. Want die Kapenaars is lief daarvoor om, die feit dat hulle die see en die berge en die tuinroete het, in mens se neus op te vryf. Ons as Gautengers het dalk nie daardie goed nie, maar ons het aan hierdie kant van die wêreld iets wat ook, op 'n ander manier, wonderlik is: warmwaterbronne. Om een of ander rede is daar net iets betowerends daaraan om, ongeag die weer (behalwe hael), laataand in 'n verhitte swembad te lê terwyl die stoom daaruit trek soos 'n kokende ketel. Dit maak op vir die raserige karavaanpark waar jy in 'n tent moet slaap omdat jy 'n week voor die tyd plek by die oord probeer kry het en hierdie staanplekke al was wat beskikbaar was. Met die Desembervakansie vir baie mense om die draai is hierdie tipe vakansie-oorde 'n goeie opsie as jy dalk weens die ekonomie nie 'n week of twee in 'n woonstel met 'n see-uitsig kan bekostig nie. Veral as jy een van daardie mense is wat 'n Jurgens in die tuin onder 'n afdak staan gemaak het, en gewoond is daaraan as iemand Bobby van Jaarsveld in die middel van die nag langs jou kampbed speel (omdat 'n karavaan se tent nie mure het nie, net flappe) en nie omgee om storte en kombuiswasbakke met ander mense te deel nie.  Vakansies soos hierdie is legendaries vir kinders en selfs ouers vind vinnig uit dat niemand nog regtig ooit dood is van 'n oordosis draairoomys of putt-putt nie. As jy net kan onthou dat nie jy of jou kinders mag hardloop om die swembad nie, dat jy nie mag eet in die swembad of op iemand mag spring wat in die swembad is nie, dan is so 'n vakansie dalk iets wat jy vir baie lank nog sal onthou. En dan maak dit nie saak as jy nie berge het om op die horison na te staar, of die see nie. Jy gaan so trampolien spring, jy sal skoon vergeet van die Kaap.

Sunday, August 30, 2015

Snuf in die neus: daar is met ons sjokolade gepeuter

"Change is inevitable. Except from a vending machine." So, as die mat onder jou uitgeruk word toe jy agterkom jy is nie Aladdin nie, en die mat kan nie vlieg, verwag jy dit. So half en half. Maar toe hulle aan jou sjokolade raak het hulle te ver gegaan...

Dit was by ons altyd 'n stryd tussen Nestlé, Beacon en Cadbury's, oor watter een die lekkerste sjokolade maak. Cadbury's (met 'n "glas en 'n half" melk) het, volgens my, al nà die marathon gaan stort nog voor die ander twee weggespring het, so ver was hy voor. Tot nou. As jy deesdae 'n roomys by McDonald's koop en die Flake proe nie meer soos Flake nie, of die blok sjokolade met die Oreo's proe na Oreo's maar nie na jou gunsteling sjokolade nie, hier is die rede: Cadbury's is meer Cadbury's nie.

Cadbury's se sjokolade het nog altyd verskillend geproe in verskillende lande waar dit vervaardig en verkoop is. In Brittanje, waar dit oorspronklik vandaan kom, het dit tot dusver anders geproe as in Suid-Afrika, of in Australië. Seker weens verskillende bestanddele of dalk omdat die koeie in lande soos Brittanje minder (of meer) gras eet, of dalk bier drink in plaas van water, mens sal nooit weet nie. Op 'n stadium is Cadbury's, met hulle bekende plaaslike fabriek in Port Elizabeth, deur Kraft Foods oorgeneem, en toe, in 2010 (as mens Wikipedia kan glo) is Kraft weer oorgeneem deur Mondelez International, 'n multi-miljard dollar maatskappy met sy hoofkantoor in Illinois in Amerika. Hy is so groot dit word as 'n konglomeraat bestempel. Toe sluk die konglomeraat handelsname soos Cadbury's in en vandag moet óns probeer sluk aan wat hulle vir ons opdis, onder die geliefde handelsmerk, wat vandag nie meer proe soos in die verlede nie.

Alles het vir my een Vrydagaand verander toe ek 'n Flake oopmaak en verwag dat "one bite" "all resistance" sou laat "crumble". Maar dit het nie gebeur nie. Iets anders in my het verkrummel. Omdat ek al in die bevoorregte posisie was om Cadbury's sjokolade in 'n paar verskillende lande te kon proe het ek geweet dat ons land s'n verskil van ander lande s'n, en deksels lekkerder is. My eerste gedagte was: hierdie Flake is nie in Suid-Afrika gemaak nie. Ek proe nie 'n ons P.E. in hierdie Flake nie. En ek was reg. Met skok lees ek op die omslag "Made in Egypt". En 'n ander dag lees ek raak dat 'n kougom van dieselfde maatskappy (Stimorol) iewers in Oos-Europa gemaak word. So word hierdie produkte deesdae op verskillende plekke in die wêreld vervaardig en proe dit nie meer soos dit altyd geproe het nie, ek vermoed dit begin deesdae oral dieselfde proe. (Terwyl ons wonder wat van hulle "Sweetie Pies" en hol paaseiers geword het...)

"Change is inevitable", sê hulle, en ons weet dit. Ons raak dalk nog gewoond aan die nuwe smake van ons gunsteling sjokolade wat weens globalisering verander het. Gelukkig word van die gewone-geur blokke nog in Suid-Afrika gemaak en is daar nog ietsie P.E's daaraan te beproeë. Hou maar net jou vergrootglas byderhand om te sien of dit vandag Egiptiese koeie, of ander koeie is wat hulle melk vir die pers papiertjie in jou hand geskenk het.

Sunday, August 2, 2015

Starbucks: nog een koppie koffie..

... kan die einde van die aand met nog 'n wyle uitstel voor ek huis se kant toe staan... Die woorde van Lucas Maree se bekende liedjie weerklink oor die koffielandskap van Suid-Afrika, op dieselfde tyd wat ons die nuus verneem dat Starbucks hulle koffiewinkels nou hiernatoe gaan bring. Dit is in samewerking met die maatskappy Taste Holdings (wat o.a. Scooters Pizza, Domino's Pizza en Maxi's Restaurante besit).

Starbucks is legendaries. Vir koffieliefhebbers was Starbucks tot dusver amper 'n rede hoekom jy op 'n vliegtuig sou hop om Amerika of Europa toe te gaan. Vir diegene wat baie oorsee gaan het die nuutjie egter in baie gevalle al vervaag en kom woorde soos "duur" en "overrated" in gesprekke op. "Amerika se koffie is nie baie lekker nie", sê iemand nou die dag in 'n gesprek, nadat hulle van daar af teruggekeer het. En ek kan dit beaam. Ek self moes lank en ver soek om "lekker" koffie in Amerika te kry. Dunkin' Donuts was byvoorbeeld nie so 'n plek nie.

Maar wat Starbucks tog wel daar regkry, en ook vir my, is om so 'n wye reeks koffies aan te bied, dat, as jy nié iets in hulle reeks kry waarvan jy hou nie, jy seker dan eerder 'n teedrinker is. Of 'n ou vir bier. Vermengings van warm en koue weergawes van koffie met die interessantste komplimenterende smake van speserye en geurmiddels is aan die orde van die dag. Dit is juis om hierdie rede hoekom dié van ons wat Starbucks al leer ken en liefkry het, al baie lank wens hulle maak winkels in Suid-Afrika oop.

Tot dusver was daar nog net gerugte. Een aand het iemand uitasem kom vertel daar is 'n Starbucks wat in Sandton oopgemaak het (wat toe natuurlik nie waar was nie). Of in die middestad van Johannesburg. Starbucks het wel tydens die 2010 Wêreldbeker-toernooi hulle koffies by sekere plaaslike hotelle verkoop, en intussen het Checkers begin om van hulle pakke koffies op hulle winkelrakke te sit. Maar die regte-egte Starbucks, die winkel wat die koffie vir jou maak en bedien in 'n stomende koppie, was nog nooit 'n realiteit vir plaaslike koffiesmullers nie. Tot nou.

Het Starbucks dalk te lank gewag om die plaaslike mark te betree? Met die ekonomie wat voortsukkel en die opkoms van nuwe-generasie tuis-koffiemasjiene wonder mens: het mense nog geld om duur koppies koffie te bekostig, as hulle in elk geval miskien reeds hoë-gehalte koffie van enige kleur en geur by die huis brou op 'n kleurvolle nuwe masjien? Net tyd sal leer. Net tyd sal leer of hulle ook soos in Australië met 'n groot gejuig die mark betree, dan klaarblyklik eers 'n klomp takke moet toemaak en uiteindelik 'n aangepaste spyskaart moet ontwerp om by plaaslike smake te pas. Waar cappuccino na bewering plek moes maak vir die gunsteling vervelig-benaamde "flat white". En wat van meer gevestigde plaaslike handelsmerke soos Seattle en die goeie ou eenvoudige maar allergunsteling koppie Wimpy-koffie? Hopelik kom hulle met genoeg "stars" om almal se oë te laat vonkel, en genoeg "bucks" om 'n grootse poging aan te wend om ons harte oor te wen.

- Stefan van Niekerk
Http:// suigeling.blogspot.com

Agent 008 vang 'n oog

Iets vang jou oog. Die man wat agteruit met 'n bakkie in 'n erf inry. 'n Vrou verskyn by die deur. Verbeel jy jou of lyk sy op haar senuwees? Jy sukkel om alles mooi te sien, daar waar jy agter die groot struik op die sypaadjie in jou draftekkies wegkruip. Die man klim uit die bakkie uit en jy verwag dat hy enige oomblik 'n pakkie wit poeier aan die senuweeagtige vrou by die deur gaan oorhandig. Tot jy sien dis nie poeier nie, ook nie 'n silwer tas vol geld nie. Dis net 'n bord gekookte kos wat hy aangee, en sy is nie eintlik senuweeagtig nie, besef jy, dis seker net hoe iemand lyk wat honger is. Dit was toe nie 'n "drug deal" nie. Nie dat "drug deals" nié onder ons neuse plaasvind nie. Of ander geheime transaksies. Soos die ou met die swart fluweeldoekie wat in 'n winkelsentrum se parkeerterrein skielik langs jou kar verskyn en 'n goue ketting te voorskyn bring wat hy aan jou wil verkoop. Partykeer lyk iets egter soos 'n geheime of verdagte operasie, maar dan is dit nie. Soos jy, as jy in die laatmiddagskemer in die kafee op die hoek se ingang verskyn en die buitelandse kafee-eienaar se oog probeer vang. Toe jy sien hy sien jou, stap jy vinnig nader na die toonbank toe. Daar is niemand anders by die toonbank nie. Ook maar goed, want ander mense sal nie die boodskap verstaan nie. "Do you have a time?", vra hy. "Eight o' clock", sê jy, "eight o'clock tonight". Jy is nie op jou senuwees nie en hy ook nie, want jy moes hierdie boodskap al baie keer aan hom oordra. Dan draai jy om en stap by die winkel uit. Vir 'n buitestaander kon dit klink na 'n afspreektyd vir 'n geheime transaksie, dalk 'n "drug deal". Maar jy weet dit is nie. Jy weet jy het net, soos gister, vir hom gesê wanneer "load shedding" vanaand gaan wees. Want dit lyk nie of buitelanders die skedules so lekker kan lees nie. En jy bly dit elke dag amusant vind dat jy soos 'n wafferse Agent 008 nie-geheime tye aan gewillige slagoffers oor kan dra.

Saturday, July 18, 2015

Kyk hoe lyk ons nou (of wil ons?)

Jy het omtrent al van almal vergeet, behalwe vir jou twee beste vriende. Tot jy die dag 'n e-pos kry van 'n vrou wie se naam vaagweg bekend klink,  en skielik onthou jy hulle almal, want jy gaan hulle oor 'n maand by die matriekreünie raakbraai. Nie dat jy eintlik daarna uitsien nie. Want 10 (of 20 of 30) jaar nadat jy by die skoolhekke uitgehardloop het dat jy so klein word, is jou motivering om omtrent enigiemand saam met wie jy jou kinderjare op die skoolbanke spandeer het, weer te sien, minimaal. Sien, jy het kontak behou met die belangrikste mense, en al hoekom jy besluit het om te gaan, is uit blote nuuskierigheid. Hoe lyk almal deesdae? Het party hulle oorgegee aan 'n lewe van drank en slegte vrouens, of is die meeste nog OK? Is iemand al oorlede, of trek hulle maar net snaaks aan as hulle so uit die oranje Cortina met die pelserige dobbelstene, wat van die tru-spieeltjie af hang, klim? Dis gewoonlik die dag wat veral die vroulike geslag uithaal en wys - met hulle klere en hare en juwele. Eintlik die mans ook: om 'n sportmotor vir 'n dag iewers te leen is nie te moeilik nie. Almal wil die illusie skep dat hulle super-suksesvol en superryk kon word in 'n dekade of drie. Of geseën is met 'n groot kroos (onthou net, as jou broerskinders die dag heeltyd kliphard kla "oom, ek wil nie hier wees nie", is dit nogal 'n give-away). Behalwe vir die illusie van sukses, rykdom en vrugbaarheid is die ander illusie van die dag die idee dat enigiemand regtig verander het in 10 of 20 jaar. Almal kuier nog in dieselfde groepies, en die persoon wat jou al vir 'n dekade nie groet as hulle verby jou stap in Alberton City nie, gaan nie skielik by 'n braai begin om dit te doen nie. Jy is self dalk daardie persoon. So sit en gesels jy maar saam, roep herinneringe op, spog 'n bietjie, kla 'n bietjie, en praat oor wat van oud-onderwysers geword het. Tot die son sak, en jy vir oulaas almal groet. Dan kan jy huis toe gaan, die vrou met die bekende/onbekende naam se e-pos (en besonderhede) gaan uitvee op jou tablet, die geleende klere en kinders terugvat en wens jy het eerder daardie Saterdag by die huis gebly en kyk hoe die verf aan jou varsgeverfde mure droogword.

Tuesday, June 2, 2015

Kleingeldhelde

Hulle is so bekend en deel van ons daaglikse lewe soos biltong en droëwors. Soos 'n koppie boeretroos of 'n tjop en dop. Waar jy ook al gaan is hulle daar, en bly om jou te sien, al is jy dalk nie altyd ewe bly om hulle te sien nie. Hulle is self-aangestel om jou eiendom te beskerm en jou verteenwoordiger te wees, van Alberton, tot aan die uithoeke van die land. Hulle is gewone mense, met drome en ideale, soos almal van ons.  Hulle staan ook, soos ons, soggens op om werk toe te gaan en gaan eers huis toe wanneer die laaste kliënt weg is. Gewone mense. Tot hulle soggens 'n helder-oranje jassie oor hulle koppe trek. Dan is hulle nie meer gewone mense nie.  Nee, dan is hulle: die karwag in jou lewe. Hulle, wat net met hulle teenwoordigheid vir jou 'n gemoedsrus kan gee wat soms alle verstand (of meeste) te bowe gaan. Die gemoedsrus dat die lewe nog dieselfde gaan wees as jy by die supermark of die Spur uitkom, dat alles nog net so sal lyk en nog daar sal staan wanneer jy terugkeer van jou tog. Sommiges werk al vir jare in dieselfde area. Jy sien hulle in die oggend in die straat verby jou stap op pad werk toe, en hulle oranje oorpakkies is hulle kenmerk. Hulle vra nie veel van jou nie, nie van jou tyd, of 'n skouer om op te huil nie. 'n Silwer muntstuk of twee sal die ding doen. 'n R2 of 'n R5 om vir 'n uur lank te staan en kyk dat niemand verdags jou Corolla se venster uitslaan en jou lêptop vaslê, of sommer die hele Corolla nie. Hierdie is 'n ode aan die spannetjie in oranje wat uniek is aan ons samelewing maar nie uniek is in ons samelewing nie. Spaar 'n oomblik, en 'n rand of twee of iets te ete vir daardie karwag(te) wat jou lojaal dien. Want husse met lang ore is een ding, maar husse met lang vingers kan eerder hulle lang vingeroefeninge op 'n ander plek gaan beoefen, as in en om jou voertuig buite die groentewinkel.