Tuesday, April 7, 2015

Op ys, ja, op ys

As die swaeltjies in 'n lang ry gepak op die telefoondraad sit is dit nie omdat hulle warm kry nie. Dit beteken winter is op pad. Hierdie voëltjies vlieg jaarliks duisende kilometer van kontinent na kontinent agter die somer aan, amper soos afgetrede Albertonners met karavane wat in die winter in Scottburgh se karavaanpark gaan uitspan.  Jy weet die winter is op pad as die einste voëltjies, of naby-familie, jou nie meer soggens halfvyf wakker tjirp nie. En die son kom 'n uur later op as in Desember, en gaan ook vroeër onder. Daar is 'n byt in die lug waar daar vroeër nie 'n byt was nie en skielik reën dit ook minder. Seisoensverandering is seker 'n goeie ding, maar dis nie noodwendig altyd lekker nie. So, ons moet begin om onsself voor te berei. In die winter eet ons outomaties meer omdat ons koud kry, so, die eerste voorbereidingswerk is: verloor gewig - gaan stap 'n paar keer om die blok na werk terwyl dit smiddae nog lig genoeg is.  As swaeltjies 8000 km kan vlieg na die woude in Duitsland kan jy dit maak om om die blok te stap. Identifiseer ook iemand wat vir jou en jou familie truie kan brei vir die koue dae en nagte.  Gewoonlik is ouerige dames die beste kandidate, mens kan hulle in die kerk of in supermarkte identifiseer, hulle lýk net soos breiers. Laat hulle vir jou truie brei, ter voorbereiding.  Begin ook nou al sopresepte bymekaar maak. Daar is niks so lekker soos sop in die winter nie (sê diegene wat nog nooit 'n Whopper-burger van Burger King oor hulle lippe gehad het nie). Onthou net, as 'n mens alkohol by sop voeg kan dit nie meer as 'n sop geklassifiseer word nie, dit staan dan bekend as 'n gedokterde bredie. Bly by natuurlike bestanddele vir die beste resultate. Soos wortels, uie en raap. Raapsop is altyd 'n treffer. So - die winter is op pad, mens kan dit aan die swaeltjies sien. Maar as 'n mens daarop voorbereid is, kan hulle maar met liefde vertrek, ons sal hulle nessies vir hulle op ys hou tot hulle terugkom.

Saturday, April 4, 2015

40 is die nuwe 40

Jy klou verbete, met bebloede vingerpunte, aan die krans se verste uitsteekpunt vas, terwyl grond en gras, en klein insekkies gillend teen jou lyf, die afgrond af val, die ewigheid in. Jou lewe flits by jou verby, van jou eerste herinnering tot jou laaste herinnering. Is hierdie jou laaste herinnering, wonder jy? Dan gooi iemand 'n tou oor die krans en jy kom agter die krans is toe nie so hoog nie, jy kan staan, dit was meer 'n wal as 'n krans. Dis hoe dit voel om 40 te word. Dis nie die einde van die wêreld nie. Of is dit?

As kind het mense van 40 vir my altyd oud gelyk. 40 was soos 80. Maar soos mens die mylpaal nader, kom jy agter - jy was reg. 40 is nie grappies nie. 40 kan beskryf word as "middeljarig". Jy is nie meer so jonk nie maar jy is ook nog nie oud nie. Jy kan nog self om die blok draf, al pyn dit. Jy kan nog self afbuk en iets van die grond af optel, al kraak dit.  Op 20 is die mikrogolf op volle krag, op 80 is hy op "defrost", en op 40 is hy op so 80 persent. Genoeg om 'n hoendertjie nog skaflik gaar te kry. Al vat dit bietjie langer.

Jy is hoe oud jy voel, sê hulle altyd. Wat ons weet bog is, want as jou ID sê jy is 40 is jy 40. Jy drink meer pille as ooit vantevore (alhoewel meestal vitamienes), jy wil vir jou dokter beskryf van iets wat pyn maar jy vra hom eers "hoeveel tyd het hy" en jy wil hê as iemand jou met 'n kamera of foon afneem moet hulle dadelik die wyehoeklens afhaal, drie tree terug gee, op 'n leer staan en jou met 'n baie helder kollig afneem wat niks plooie sal wys, of dubbelkenne nie.

Dalk voel almal verskillend daaroor om 40 te slaan. Dalk huil baie vrouens nie omdat hulle 40 word nie, dalk huil hulle omdat hulle bly is hulle is nog nie 80 nie. Die lewe bly steeds 'n waardevolle geskenk, mens sal net moet  leer om met die krake en kraakgeluide saam te leef.