Tuesday, April 7, 2015

Op ys, ja, op ys

As die swaeltjies in 'n lang ry gepak op die telefoondraad sit is dit nie omdat hulle warm kry nie. Dit beteken winter is op pad. Hierdie voëltjies vlieg jaarliks duisende kilometer van kontinent na kontinent agter die somer aan, amper soos afgetrede Albertonners met karavane wat in die winter in Scottburgh se karavaanpark gaan uitspan.  Jy weet die winter is op pad as die einste voëltjies, of naby-familie, jou nie meer soggens halfvyf wakker tjirp nie. En die son kom 'n uur later op as in Desember, en gaan ook vroeër onder. Daar is 'n byt in die lug waar daar vroeër nie 'n byt was nie en skielik reën dit ook minder. Seisoensverandering is seker 'n goeie ding, maar dis nie noodwendig altyd lekker nie. So, ons moet begin om onsself voor te berei. In die winter eet ons outomaties meer omdat ons koud kry, so, die eerste voorbereidingswerk is: verloor gewig - gaan stap 'n paar keer om die blok na werk terwyl dit smiddae nog lig genoeg is.  As swaeltjies 8000 km kan vlieg na die woude in Duitsland kan jy dit maak om om die blok te stap. Identifiseer ook iemand wat vir jou en jou familie truie kan brei vir die koue dae en nagte.  Gewoonlik is ouerige dames die beste kandidate, mens kan hulle in die kerk of in supermarkte identifiseer, hulle lýk net soos breiers. Laat hulle vir jou truie brei, ter voorbereiding.  Begin ook nou al sopresepte bymekaar maak. Daar is niks so lekker soos sop in die winter nie (sê diegene wat nog nooit 'n Whopper-burger van Burger King oor hulle lippe gehad het nie). Onthou net, as 'n mens alkohol by sop voeg kan dit nie meer as 'n sop geklassifiseer word nie, dit staan dan bekend as 'n gedokterde bredie. Bly by natuurlike bestanddele vir die beste resultate. Soos wortels, uie en raap. Raapsop is altyd 'n treffer. So - die winter is op pad, mens kan dit aan die swaeltjies sien. Maar as 'n mens daarop voorbereid is, kan hulle maar met liefde vertrek, ons sal hulle nessies vir hulle op ys hou tot hulle terugkom.

No comments: