Jy klou verbete, met bebloede vingerpunte, aan die krans se verste uitsteekpunt vas, terwyl grond en gras, en klein insekkies gillend teen jou lyf, die afgrond af val, die ewigheid in. Jou lewe flits by jou verby, van jou eerste herinnering tot jou laaste herinnering. Is hierdie jou laaste herinnering, wonder jy? Dan gooi iemand 'n tou oor die krans en jy kom agter die krans is toe nie so hoog nie, jy kan staan, dit was meer 'n wal as 'n krans. Dis hoe dit voel om 40 te word. Dis nie die einde van die wêreld nie. Of is dit?
As kind het mense van 40 vir my altyd oud gelyk. 40 was soos 80. Maar soos mens die mylpaal nader, kom jy agter - jy was reg. 40 is nie grappies nie. 40 kan beskryf word as "middeljarig". Jy is nie meer so jonk nie maar jy is ook nog nie oud nie. Jy kan nog self om die blok draf, al pyn dit. Jy kan nog self afbuk en iets van die grond af optel, al kraak dit. Op 20 is die mikrogolf op volle krag, op 80 is hy op "defrost", en op 40 is hy op so 80 persent. Genoeg om 'n hoendertjie nog skaflik gaar te kry. Al vat dit bietjie langer.
Jy is hoe oud jy voel, sê hulle altyd. Wat ons weet bog is, want as jou ID sê jy is 40 is jy 40. Jy drink meer pille as ooit vantevore (alhoewel meestal vitamienes), jy wil vir jou dokter beskryf van iets wat pyn maar jy vra hom eers "hoeveel tyd het hy" en jy wil hê as iemand jou met 'n kamera of foon afneem moet hulle dadelik die wyehoeklens afhaal, drie tree terug gee, op 'n leer staan en jou met 'n baie helder kollig afneem wat niks plooie sal wys, of dubbelkenne nie.
Dalk voel almal verskillend daaroor om 40 te slaan. Dalk huil baie vrouens nie omdat hulle 40 word nie, dalk huil hulle omdat hulle bly is hulle is nog nie 80 nie. Die lewe bly steeds 'n waardevolle geskenk, mens sal net moet leer om met die krake en kraakgeluide saam te leef.
Saturday, April 4, 2015
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment