Eers was daar die TV-reeks, en nou, dertig jaar later die fliek. Ek het net een woord: stomgeslaan. As ek Engels was het ek twee woorde gebruik: Blown Away.
Ek het self die TV-reeks jare gelede gekyk. Op laerskool. Ek het selfs nog die openingskenwysie iewers op 'n ou VHS-videoband. Nou het Leon van Nierop die storie verwerk vir 'n fliek en die resultaat is roerend.
Dis te lank terug dat mens die storie eintlik in detail kan onthou. Wat help. Wat jou soveel meer verras laat. In die TV-reeks mag daar destyds ook nie woorde groter as "foei" of "ramkat" gebruik word nie, wat nie die geval met die fliek is nie. So, "gekruide taal" is daar heelwat van. Maar as mens daar verby kan kyk, sien jy iets wat jou meesleur en verras.
Die musiek in die fliek klink bekend ("Enkeling", Voshaarnooi"), maar die uitvoering is alles nuut. Regdeur die fliek word mens deur bekende en onbekende klavierklanke, asook ander juwele saamgevoer. Van die begin, saam met Richard van der Westhuizen, tot aan die einde saam met die Heuwels Fantasties word jy op 'n bekende, maar nuwe ontdekkingstog geneem.
Die storie is modern en vars en laat mens trots voel om Afrikaans te kan wees en sulke produksies in Afrikaans te kan beleef. Wat vir my uitgestaan het is: dit wys die nuwe, pragtige dele van Johannesburg se middestad (soos Maboneng), almal speel goed toneel, die kinderweergawes van karakters lyk baie na aan die volwasse weergawes, die storie is nie vergesog soos so baie keer in flieks gebeur, of stroperig soetsappig nie.
As mens by die teater uitstap is jy amper gedisorienteer. Daai klaviernote van "Enkeling" bly jou by. En die besef: hoe mense ander mense, en hulle eie lewens kan vernietig deur leuens en refleks-besluite. Beslis 'n kyk werd. 9 uit 10.
Saturday, March 28, 2015
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment