Monday, March 16, 2015
Waar daar 'n rokie trek...
Toe die steak die rooster tref besluit jy met genoegdoening hierdie gaan 'n lekker aandjie wees. Die gaslamp staan op die opslaantafel, en die kinders hardloop in die rondte daar om soos motte om 'n kers. Onder die gesuis van die briljante stukke vleis op die kole is daar 'n kriekekoor aan die gang wat jou net weereens herinner dat dit somer is en dat hierdie die lekkerste tyd van die jaar is om in die aande langs 'n braaivleisvuur te sit en die naggeluide in te neem. Hier langs die vuur voel mens so ver verwyderd van die regte wêreld daar buite, en die gewone dinge wat gewoonlik jou tyd saans in beslag neem. Jou vrou skink vir jou 'n knertsie, en so sit julle in stilte en luister na hoe die somersaand homself uitspeel, anders as gewoonlik wanneer die kinders een of ander blêrende rekenaarspeletjie speel, of die alarm afgaan, of iemand die klokkie by die hek lui, of 'n radio iewers aan is. Jy vat rustig nog 'n sluk uit jou glas en dink oor die haastige pas van die lewe. Oor werk, en stres en al die ure wat mens insit in 'n resies wat meestal na niks meer as 'n blote gejaag na wind voel nie. Oor hoe min mens regtig net stil op een plek gaan sit en niks doen nie, behalwe om te kyk hoe vleis braai en kinders speel. Dit gebeur nie baie nie. En toe is die vleis gaar en die kinders het bedaar en eet julle as gesin saam om die opslaantafel - by gaslamplig, saam met 'n bietjie lig van die gebluste braaivleisvuur en die volmaan wat laag op die horison hang. Hierdie lewe is iets waaraan mens gewoond kan raak, dink jy, en waarskynlik sal moet want "load-shedding" het ons verander in kampeerders in ons eie tuine saans. Iets wat nie noodwendig altyd 'n slegte idee is nie.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment