My vroegste herinnering aan die Randse Skou was toe ek baie klein was en 'n toffie-appel geëet het wat groter as my kop was. Daar was net iets betowerend aan daardie dag en sedertdien is ek steeds 'n Skou-junkie. Hierdie jaar is die Skou al 119 jaar aan die gang en volgende week is dit weer sulke tyd. Kyk, in 119 jaar het baie aan die Skou verander. Ek weet nie op watter heuwel of in watter skuur hy begin het nie, ek weet net dit was in Aucklandpark toe ek die eerste keer gegaan het - waar WITS vandag is - maar sedert 1985 is dit by Nasrec Uitstalsentrum, heel gepas naby die Randse Skou afrit op die N1, en tussen die mynhope. Vir kinders is en was die groot trekpleister nog altyd die pretpark, die "rye". Die "Looping Star" roller coaster (want "roller coaster" klink baie beter as 'wipwaentjies'), die swaaie, die skulpe, die Break Dancer, die Spookhuis en die Rotor, wat in die rondte gedraai het terwyl jy aan die muur vasgesuig het, en die grond onder jou weggeval het. Vandag is die rye meer modern, maar sekere van die ou gunstelinge is nog daar. Die Skou is in effek 'n uitstalling, met allerande ware wat in die groot uitstalsale aan die publiek vertoon word. Soos die meubelsaal. Of die saal met die "gadgets". Oral is demonstrasies en goed waaraan jy kan proe of ruik of voel. Iemand maak jou skoene skoon by die een stalletjie, probeer 'n koffiemasjien aan jou verkoop by 'n ander, of 'n borrelbad, of 'n snoekertafel, kompleet met muurbehangsels van honde wat snoeker speel, op. Ander ou bekende uitstallings is die karavane, en die weermag. Kosstalletjies is oral en daar is selfs 'n vlooimark. Mens sou sweer ek word betaal om die Skou te bemark. Maar dis nie waar nie. Daar is net soveel jare se wonderlike herinneringe vasgevang by hierdie jaarlikse fees dat ek nie anders kan as om liries daaroor te raak nie. Nou goed, die toegang is nogal duur en die Skou is deesdae kleiner as die verlede. Maar vir 'n uitstappie vir die gesin op 'n koel Aprilaand is daar baie om te doen en sien by die Randse Skou. En daar is sekerlik nog toffieappels ook. Ek dink net ek gaan sukkel om deesdae een te kry wat so groot soos my kop is.
Wednesday, March 25, 2015
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment