Wednesday, March 25, 2015

Sit vir oupa daar 'n plaat op

Wat het ons geluister voor ons plate gehad het? O ja. Plate. "Langspeelplate". Wie sou selfs net 'n paar jaar terug kon dink jy daag by 'n braai op en, soos jy instap, vra iemand: ag, terwyl jy nou by die platespeler verbyloop, sit sommer daardie nuwe plaat van Bobby van Jaarsveld op, asseblief? Hoe bisar. Vir ons klomp wat in die 70's kinders was kan niemand enigiets van plate vertel nie. Van ons lekkerste tye was om partytjies te hou en plate te luister. Baie soos vandag. Om nie te praat van die kinderplate wat ons "opgeluister" het nie. Dit was goeie tye, maar in die 90's is ons deur CD's gered van krapperige plaatklanke van die 70's en die dowwe klank van die 80's se kassette (wat op 'n goeie somersaand sommer deur die kassetspeler opgevreet sou word). Nou het die wiel gedraai. Teruggedraai. Plaaslike sangers, en internasionales ook, gee nou weer hulle musiek op plaat uit. So, moenie verbaas wees as jy een oggend in jou sitkamer instap en sien 'n venster is gebreek, maar al wat vermis word is jou ou plate nie. Plate is nou weer in aanvraag. Wonder bo wonder wil mense weer soos van ouds 'n ou-bekende ritueel uitvoer. Hulle wil 'n plaat van die rak afhaal,  die platespeler aansit, die plaat uit sy omslag haal, hom korrek posisioneer op die speler, die naald oplig en dit plaas op die draaiende plaat op die draaitafel. Dis nogal omslagtig. En jy kan ook nie die hele plaat in een beweging deurluister nie. Aikona. Op 'n stadium moet jy hom omdraai om na die ander helfte op die ander kant van die plaat te luister. Kant 1 en kant 2. Onthou ook: langspeelplate speel teen 'n spesifieke spoed - drie-en-dertig en 'n derde. As jy die speler op 45 sit, gaan Bobby klink soos 'n smurfie. Lyk my, in die lewe verander baie dinge, maar baie dinge bly dieselfde. Soos met plate. Selfs oupa sal verbaas wees as hy vir sy agterkleinkind vra om vir hom 'n plaat van Pat Boone op te sit. Die kind sal waarskynlik weet hoe om dit te doen en het dalk onlangs self die hele reeks van Pat Boone se plate op e-bay gekoop. Of miskien Piet Botha of Pat Benatar.

No comments: