Tuesday, June 2, 2015

Kleingeldhelde

Hulle is so bekend en deel van ons daaglikse lewe soos biltong en droëwors. Soos 'n koppie boeretroos of 'n tjop en dop. Waar jy ook al gaan is hulle daar, en bly om jou te sien, al is jy dalk nie altyd ewe bly om hulle te sien nie. Hulle is self-aangestel om jou eiendom te beskerm en jou verteenwoordiger te wees, van Alberton, tot aan die uithoeke van die land. Hulle is gewone mense, met drome en ideale, soos almal van ons.  Hulle staan ook, soos ons, soggens op om werk toe te gaan en gaan eers huis toe wanneer die laaste kliënt weg is. Gewone mense. Tot hulle soggens 'n helder-oranje jassie oor hulle koppe trek. Dan is hulle nie meer gewone mense nie.  Nee, dan is hulle: die karwag in jou lewe. Hulle, wat net met hulle teenwoordigheid vir jou 'n gemoedsrus kan gee wat soms alle verstand (of meeste) te bowe gaan. Die gemoedsrus dat die lewe nog dieselfde gaan wees as jy by die supermark of die Spur uitkom, dat alles nog net so sal lyk en nog daar sal staan wanneer jy terugkeer van jou tog. Sommiges werk al vir jare in dieselfde area. Jy sien hulle in die oggend in die straat verby jou stap op pad werk toe, en hulle oranje oorpakkies is hulle kenmerk. Hulle vra nie veel van jou nie, nie van jou tyd, of 'n skouer om op te huil nie. 'n Silwer muntstuk of twee sal die ding doen. 'n R2 of 'n R5 om vir 'n uur lank te staan en kyk dat niemand verdags jou Corolla se venster uitslaan en jou lêptop vaslê, of sommer die hele Corolla nie. Hierdie is 'n ode aan die spannetjie in oranje wat uniek is aan ons samelewing maar nie uniek is in ons samelewing nie. Spaar 'n oomblik, en 'n rand of twee of iets te ete vir daardie karwag(te) wat jou lojaal dien. Want husse met lang ore is een ding, maar husse met lang vingers kan eerder hulle lang vingeroefeninge op 'n ander plek gaan beoefen, as in en om jou voertuig buite die groentewinkel.

Monday, May 25, 2015

En die grootste Survivor is: Survivor!

Behalwe Noot vir Noot is daar seker nie nog 'n program wat 'n kanniedood is soos die Amerikaanse weergawe van "Survivor" nie. Die program, wat al sedert die begin, in 2000, deur Jeff Probst aangebied word en wat niksvermoedende Amerikaners jaar na jaar in miljoenêrs verander. Bygesê, ek weet nie of ek sal doen wat hulle moet doen om daardie geld te wen nie. As jy vir vyf weke in wind en weer op drie riete moes lê langs iemand wat laas op 'n plaas in North Dakota gebad het (en toe ook net so een maal per maand), sou jy ook 'n miljoen dollar verdien het vir jou moeite. Die program is soos 'n fyn-uitgewerkte, gechoreografeerde boendoe-dans wat waarskynlik etlike miljoene dollar kos om te vervaardig. Met Jeff wat al vir 15 jaar presies dieselfde goed sê soos "Wanna know whatcha playin for?" of "I'll go tally the votes" of "Survivors ready... go!" Al is dit oorbekend, is geen van die reekse kinderspeletjies nie. Maar jy weet ook nie wat is regte pyn en lyding en wat is showbiz nie. Jy weet nie of daar dalk agter 'n piesangblaar 'n wasbak ingebou is waar die Amerikaanse deelnemers twee maal per dag daardie perfekte wit tande van hulle met behulp van Aquafresh borsel, en elke oggend deur 'n spesiaal-aangestelde sun tan lotion sproeier, toegespuit word voor daar met die dag se verfilming begin word nie. Mens weet dit nie. Maar mens kan wel sien dat die gelêery op die riete regtig is en dat mens nie uitgeteerdheid weens 'n dieët van rys en muggies, of slapeloosheid weens die rietslapery onder die elemente, vir die kamera kan wegsteek nie, al blink die tande soos die sterre in die hemel. Ek weet nie by die hoeveelste reeks "Survivor" trek nie, want mens kan dit ook nie google nie, want dan sien jy wie't die reekse gewen (siende dat die SABC drie jaar agter Amerika is met die uitsaai van die program). Al wat ek weet is, al is dit bietjie lank in die tand, en al is ek al mens wat ek ken wat nog SABC kyk - Maandagaand met Survivor bly 'n treat. Want jy weet nooit wie volgende ge"blindside" word nie en wat maak die lewe dan nou interessanter as 'n aand vol kinkels in die kabel?

Tuesday, May 19, 2015

Selfies: Elke kliek, 'n meesterstuk

Om 'n selfportret te skilder sit nie in enigeen se broek nie. As jy byvoorbeeld wil begin en jy vat die verfkwassie by die kwassiekant vas, (dis nou die deel met die haartjies) dan het jy al misluk nog voor jy begin het. Om suksesvol te wees as 'n selfportretskilder moes jy reeds die skilderkuns bemeester het. Jy moes ten minste al 'n uitkenbare hond, kat of bok kon skilder wat nie gelyk het soos 'n koei of 'n wollerige monster wat kinders skrikmaak nie. En jy moet oë kan skilder. Mens kan nog wegkom met 'n skewe ken, of 'n ore wat nie ewe groot is nie, maar oë onderskei die skildermanne van die skildermuise. En dit sal ook nie help as jy kortpad kies en 'n selfportret skilder van jouself met toe-oë nie: dis sommer net gewoonweg kroek. 'n Selfportret vat tyd, maar die resultaat, as jy weet wat jy doen, is baie bevredigend. Deesdae, egter, skilder niemand meer hulleself nie. Al selfportrette wat jy deesdae kry is van 'n gesig en 'n deel van die persoon se arm in dieselfde portret. En dis foto's, nie skilderye nie. Want as jy 'n selfoon het kan jy 'n afbeelding van jouself op jou foon verewig. Maar weet net: dit sal vir ewig 'n selfportret van jou en jou arm wees, tot jy genoeg geld bymekaar geskraap het om uiteindelik die Selfie-stick te koop, of, van nature spog met lang arms. Vincent van Gogh het dertig selfportrette geskilder oor die verloop van vier jaar. Dit was seker 'n langsame proses van die regte kleure meng, en met moeite, die korrekte skakerings op doek aanbring.  Hy sou dalk 'n paar keer van voor af moes begin as hy dalk die ronding van sy ken, of sy haarlyn nie die eerste keer reg kon kry nie. As hy toe 'n selfoon gehad het, kon hy dertig "selfportrette" binne 'n paar sekondes gedoen het. En op elkeen sou sy ore ewe groot gewees het. Behalwe, miskien, die een wat hy afgekap het uit skilder-frustrasie.

Tuesday, April 7, 2015

Op ys, ja, op ys

As die swaeltjies in 'n lang ry gepak op die telefoondraad sit is dit nie omdat hulle warm kry nie. Dit beteken winter is op pad. Hierdie voëltjies vlieg jaarliks duisende kilometer van kontinent na kontinent agter die somer aan, amper soos afgetrede Albertonners met karavane wat in die winter in Scottburgh se karavaanpark gaan uitspan.  Jy weet die winter is op pad as die einste voëltjies, of naby-familie, jou nie meer soggens halfvyf wakker tjirp nie. En die son kom 'n uur later op as in Desember, en gaan ook vroeër onder. Daar is 'n byt in die lug waar daar vroeër nie 'n byt was nie en skielik reën dit ook minder. Seisoensverandering is seker 'n goeie ding, maar dis nie noodwendig altyd lekker nie. So, ons moet begin om onsself voor te berei. In die winter eet ons outomaties meer omdat ons koud kry, so, die eerste voorbereidingswerk is: verloor gewig - gaan stap 'n paar keer om die blok na werk terwyl dit smiddae nog lig genoeg is.  As swaeltjies 8000 km kan vlieg na die woude in Duitsland kan jy dit maak om om die blok te stap. Identifiseer ook iemand wat vir jou en jou familie truie kan brei vir die koue dae en nagte.  Gewoonlik is ouerige dames die beste kandidate, mens kan hulle in die kerk of in supermarkte identifiseer, hulle lýk net soos breiers. Laat hulle vir jou truie brei, ter voorbereiding.  Begin ook nou al sopresepte bymekaar maak. Daar is niks so lekker soos sop in die winter nie (sê diegene wat nog nooit 'n Whopper-burger van Burger King oor hulle lippe gehad het nie). Onthou net, as 'n mens alkohol by sop voeg kan dit nie meer as 'n sop geklassifiseer word nie, dit staan dan bekend as 'n gedokterde bredie. Bly by natuurlike bestanddele vir die beste resultate. Soos wortels, uie en raap. Raapsop is altyd 'n treffer. So - die winter is op pad, mens kan dit aan die swaeltjies sien. Maar as 'n mens daarop voorbereid is, kan hulle maar met liefde vertrek, ons sal hulle nessies vir hulle op ys hou tot hulle terugkom.

Saturday, April 4, 2015

40 is die nuwe 40

Jy klou verbete, met bebloede vingerpunte, aan die krans se verste uitsteekpunt vas, terwyl grond en gras, en klein insekkies gillend teen jou lyf, die afgrond af val, die ewigheid in. Jou lewe flits by jou verby, van jou eerste herinnering tot jou laaste herinnering. Is hierdie jou laaste herinnering, wonder jy? Dan gooi iemand 'n tou oor die krans en jy kom agter die krans is toe nie so hoog nie, jy kan staan, dit was meer 'n wal as 'n krans. Dis hoe dit voel om 40 te word. Dis nie die einde van die wêreld nie. Of is dit?

As kind het mense van 40 vir my altyd oud gelyk. 40 was soos 80. Maar soos mens die mylpaal nader, kom jy agter - jy was reg. 40 is nie grappies nie. 40 kan beskryf word as "middeljarig". Jy is nie meer so jonk nie maar jy is ook nog nie oud nie. Jy kan nog self om die blok draf, al pyn dit. Jy kan nog self afbuk en iets van die grond af optel, al kraak dit.  Op 20 is die mikrogolf op volle krag, op 80 is hy op "defrost", en op 40 is hy op so 80 persent. Genoeg om 'n hoendertjie nog skaflik gaar te kry. Al vat dit bietjie langer.

Jy is hoe oud jy voel, sê hulle altyd. Wat ons weet bog is, want as jou ID sê jy is 40 is jy 40. Jy drink meer pille as ooit vantevore (alhoewel meestal vitamienes), jy wil vir jou dokter beskryf van iets wat pyn maar jy vra hom eers "hoeveel tyd het hy" en jy wil hê as iemand jou met 'n kamera of foon afneem moet hulle dadelik die wyehoeklens afhaal, drie tree terug gee, op 'n leer staan en jou met 'n baie helder kollig afneem wat niks plooie sal wys, of dubbelkenne nie.

Dalk voel almal verskillend daaroor om 40 te slaan. Dalk huil baie vrouens nie omdat hulle 40 word nie, dalk huil hulle omdat hulle bly is hulle is nog nie 80 nie. Die lewe bly steeds 'n waardevolle geskenk, mens sal net moet  leer om met die krake en kraakgeluide saam te leef.

Saturday, March 28, 2015

Ballade vir 'n Enkeling: die fliek

Eers was daar die TV-reeks, en nou, dertig jaar later die fliek. Ek het net een woord: stomgeslaan. As ek Engels was het ek twee woorde gebruik: Blown Away.

Ek het self die TV-reeks jare gelede gekyk. Op laerskool. Ek het selfs nog die openingskenwysie iewers op 'n ou VHS-videoband. Nou het Leon van Nierop die storie verwerk vir 'n fliek en die resultaat is roerend.

Dis te lank terug dat mens die storie eintlik in detail kan onthou. Wat help. Wat jou soveel meer verras laat. In die TV-reeks mag daar destyds ook nie woorde groter as "foei" of "ramkat" gebruik word nie, wat nie die geval met die fliek is nie. So, "gekruide taal" is daar heelwat van. Maar as mens daar verby kan kyk, sien jy iets wat jou meesleur en verras.

Die musiek in die fliek klink bekend ("Enkeling", Voshaarnooi"), maar die uitvoering is alles nuut. Regdeur die fliek word mens deur bekende en onbekende klavierklanke, asook ander juwele saamgevoer. Van die begin, saam met Richard van der Westhuizen, tot aan die einde saam met die Heuwels Fantasties word jy op 'n bekende, maar nuwe ontdekkingstog geneem.

Die storie is modern en vars en laat mens trots voel om Afrikaans te kan wees en sulke produksies in Afrikaans te kan beleef. Wat vir my uitgestaan het is: dit wys die nuwe, pragtige dele van Johannesburg se middestad (soos Maboneng), almal speel goed toneel, die kinderweergawes van karakters lyk baie na aan die volwasse weergawes, die storie is nie vergesog soos so baie keer in flieks gebeur, of stroperig soetsappig nie.

As mens by die teater uitstap is jy amper gedisorienteer. Daai klaviernote van "Enkeling" bly jou by. En die besef: hoe mense ander mense, en hulle eie lewens kan vernietig deur leuens en refleks-besluite.  Beslis 'n kyk werd. 9 uit 10.